Die verval van provinsiale paaie in die Vrystaat het die Vryheidsfront Plus genoop om ’n klag by die openbare beskermer (OB) in te dien.
Armand Cloete, VF Plus-lid van die Vrystaatse wetgewer, het Donderdag (19/05) in ’n verklaring gesê dié party het die OB versoek om ondersoek na die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer se padbouprojekte in te stel.
“Kontrakteurs was nie in staat om die projekte wat aan hulle toegeken is, te voltooi nie. Daar is ook gevalle waar paaie wat gebou is, benede peil is.”
Volgens Cloete beloop die geraamde waarde van die kontrakte sowat R831 miljoen. Die departement poog om verlore geld deur die regsaksie te herwin.
Intussen is die departement genoodsaak om van verkrygingsprosesse af te wyk om nuwe kontrakteurs aan te stel om mislukte en onvoltooide projekte te voltooi.
“Terwyl die provinsie se paaie vervalle is, is dit onaanvaarbaar dat die departement nagelaat het om tenders aan kontrakteurs met bewese rekords in die voltooiing van paaie van goeie gehalte toe te ken.”
Volgens George Michalakis, DA-lid in die Nasionale Raad van Provinsies, is R37,07 miljoen (34%) van die begrote bedrag van R107,8 miljoen vir 2019 in daardie jaar uitbetaal. Hy reken dit dui daarop dat twee derdes van die werk nie gedoen is nie.
In 2020 is R171,7 miljoen (78%) van die begrote R222,1 miljoen uitbetaal, maar daar is min om hiervoor te wys.
“Die stand van paaie in die provinsie is ’n bewys dat die werk in baie gevalle nie gedoen is nie,” sê Michalakis.
Daarby het die departement nie gesê hoeveel van die R406,2 miljoen wat vir die 2021-’22-boekjaar begroot is, uitbetaal is nie.
“Wat verder skokkend is, is dat die begroting vir die kontrakteur-ontwikkelingsprogram van jaar tot jaar verdubbel het van net meer as R100 miljoen in 2019 tot R400 miljoen in 2021, terwyl die verval van paaie oor dié tyd merkbaar was.”
Van die 71 maatskappye wat die departement aangestel het, is sewe in die proses om as maatskappy te deregistreer of het reeds gederegistreer omdat hulle nie aan wetgewing voldoen nie.
“Die departement het ook versuim om die nodige deurlopende monitering van projekte te doen,” sê Cloete.
Die VF Plus se versoek aan die OB is om die kontrolemeganismes van die departement met die toekenning van tenders te ondersoek.
“Sommige Vrystaatse paaie is reeds as doodspaaie gebrandmerk. Die provinsie kan nie enige verdere verliese met betrekking tot sy padinfrastruktuur bekostig nie.”
Die VF Plus beskou die litigasiewaarde van die hofsake in wese as ’n erkenning van die departement dat hy nie staatsfondse volgens die voorskrifte van wetgewing bestuur nie.
Volgens William Bulwane, LUR vir polisie, paaie en vervoer, is hy besig om die kontrakteurontwikkelingsprogram met sy leerlingkontrakteurs uit te faseer.
Hy het vroeër reeds gesê hy moet nog kyk na die situasie op die pad van Winburg na Theunissen, asook die een van Bultfontein na Theunissen, nadat twee leerlingkontrakteurs wat elk R7,7 miljoen hiervoor gekry het, die projekte verlaat het terwyl paaie nog vol slaggate is.