Luchelle Oosthuizen in aksie in Malawi. Foto: Gabriella Benjamin Photography


’n Bloemfonteinse swemmer het Maandag (12/12) uit Malawi teruggekeer met sewe medaljes in haar heel eerste internasionale kompetisie.

Luchelle Oosthuizen, ’n gr. 12-leerling van die Eunice High School en lid van die Suid-Afrikaanse swemspan wat van 2 tot 11 Desember aan die Streek 5 Jeugspele in Lilongwe, Malawi, gaan deelneem het, het sommer ’n handvol medaljes teruggebring.

Sy spog met goud in die 100 m- en 200 m-vlinderslag, goud in die 100 m-vryslag en silwer in die 400 m-vryslag.

Sy het ook drie goue medaljes gekry vir verskillende aflos-nommers waaraan sy deelgeneem het. Dit was in die 4×100 m gemengde wisselslag, 4×100 m vroue-wisselslag en 4×50 m vroue-vryslag.

Daar was 33 lede in Suid-Afrika se swemspan en saam met hulle het Suid-Afrikaanse o.20-sportlui in atletiek, basketbal, boks, sokker, judo, gimnastiek, netbal, taekwando, tennis en vlugbal aan die kampioenskap deelgeneem. Suid-Afrika het 62 goue medaljes, 30 silwer -en 22 bronsmedaljes op die hele byeenkoms verower.

Luchelle was die enigste Bloemfonteinse swemmer in die Suid-Afrikaanse span.

Luchelle Oosthuizen spog met sewe medaljes op die pas afgelope jeugspele in Malawi. Foto: Verskaf

Al het sy pas geland, was sy sommer Dinsdag weer in die swembad om te oefen vir die KwaZulu-Natalse streekkampioenskap wat Donderdag (15/12) in Durban begin.

Luchelle sê daar was eintlik net een groot byeenkoms in Pietermaritzburg in Augustus. Hier het sy tweede gekom in die 200 m-vlinderslag “Die ander byeenkomste was kleiner galas. Eintlik het ons maar heel jaar voorberei vir die groot byeenkoms in Malawi,” sê sy.

“Dit was my eerste byeenkoms in die buiteland en ek was maar senuweeagtig voor elke nommer omdat ’n mens nie weet hoe jy gaan vaar teen die kompetisie nie. Dit was regtig baie lekker.”

Luchelle sê sy het deur haar skoolloopbaan aan baie sportsoorte deelgeneem, maar het reeds in gr. 3 in die Laer Meisieskool Oranje besef sy hou baie van swem.

“Ek het besluit my doel is om oorsee te swem en ek gaan nou voluit daarvoor,” sê dié blitsige swemmer van die Kovsie Aquatics-swemklub.

Om op haar swemloopbaan te fokus, het sy ingeskryf om volgende jaar aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) te studeer.

Sy word afgerig deur Marco Markgraaff.

You need to be Logged In to leave a comment.