Die droom om ’n plek te skep vir tienerpasiënte met breingewasse wat by die Nasionale Hospitaal behandeling ontvang, het deel geword van ’n projek wat ’n swempoging in die Himalaja-gebergte behels.
Madswimmer, gestig deur Jean Craven, wat in 1990 Grey-kollege se skoolkaptein was, gaan saam met ’n groep mense – waaronder die oudnetbalspeler en aanbieder Vanes-Mari du Toit – tussen vandag en 6 Mei probeer om in die hoogste meer op aarde te swem.
’n Vorige poging om hoog in die berge te swem is in 2010 deur die Brits-Suid-Afrikaanse swemmer Lewis Pugh onderneem, op 5 200 m bo seevlak op die berg Everest.
Die Suid-Afrikaanse Madswimmer-span het in 2015 die rekord verbeter deur te swem op ’n hoogte van 5 909 m bo seevlak, in die Andes-gebergte in Suid-Amerika.
Die Australiër Daniel Bull het dit in 2020 verder gevoer en geswem in water op ’n hoogte van 6 370 m bo seevlak – ook in die Andes.
Craven en sy span Madswimmers hoop om die Suid-Afrikaanse rekord terug te eis deur in ’n nuut ontdekte meer op 7 000 m bo seevak in die Himalaja te swem.
Amptelik is die hoogste natuurlike meer by Ojos del Salado, op die grens tussen Argentinië en Chile. Namate die planeet warmer word, vorm al hoe meer mere en poele op hoër hoogtes.
As Craven en sy span in die meer by Phuta Himchuli in die Himalaja kan swem, sal dit beteken dat die aarde se hoogste meer waarin al geswem is, nou in Asië is, en nie meer in Suid-Amerika nie. Gletsers in die wêreld se hoogste bergreekse begin al meer smelt en mere vorm weens aardverhitting. Dit is waarom hierdie soort mere al hoër bo seevlak voorkom.
Die swemuitdaging The Sky is the Limit, wat dié groep nou onderneem, gaan plaasvind in uiterste omstandighede om bewusmaking oor die wêreld heen te skep oor hoe groot die probleem van klimaatsverandering werklik is.
Terwyl hulle die avontuur onderneem, gaan die groep van sewe, wat deur Nepalese sjerpas ondersteun word, geld insamel vir die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad, die Tiener-onkologie-eenheid by die Nasionale Hospitaal, asook ’n Nepalese liefdadigheidsorganisasie.
Dr. Anton van Aswegen, hoof van neurochirurgie by die Nasionale Hospitaal, sê hulle sien heelwat tienerpasiënte met breingewasse.
“Naas limfome en leukemie, is breingewasse die derde algemeenste soort gewasse onder kinders en jongvolwassenes.”
Hy verduidelik hy en prof. Alicia Sherriff, hoof van onkologie, werk nou saam om hierdie pasiënte te behandel. “Ons het ‘n ernstige behoefte geïdentifiseer vir gespesialiseerde sorg vir tieners tussen die ouderdomme van 12 en 18 jaar wat te groot is vir die kindersaal, maar tog ook nie regtig tuis voel in die volwasse sale nie,” verduidelik hy.
“Ons hoop om ‘n tiener-onkologie-eenheid te stig wat spesifiek in tieners se behoeftes sal voorsien. Dit sluit ‘n afsonderlike ontspanningsgedeelte wat ook vir afstandonderrig gebruik kan word, asook twee gereserveerde enkelkamers met badkamers. Dit sal die tieners se ouers toelaat om by hulle in die hospitaal te bly tydens behandeling.”
Hy ken Craven al vir byna 40 jaar. “Jean is ‘n uitsonderlike man met ‘nhart van goud wat uit sy pad sal gaan om minderbevoorregtes te help.”
Van Aswegen het hom gekontak en Craven het ingestem om die Bloemfonteinse onkologie-projek met die swem-poging te ondersteun.
Vind meer uit oor The Sky is the Limit by hierdie YouTube-skakel: The sky is the Limit