Ma en dogter Lelanie en Monet Meyer het die Midmar-myl saam aangedurf.Foto’s: Verskaf


Bloemfonteiners het puik gevaar in vanjaar se Midmar-myl wat Sondag (13/02) naby Howick in KwaZulu-Natal aangebied is.

Die Midmar-myl is die grootste oopwater-swembyeenkoms ter wêreld.

Luchelle Oosthuizen, ’n gr. 12-leerling aan die Eunice High School, het in die ope afdeling vir swemmers 14 tot 30 jaar meegeding. Haar tyd van 22:19 was goed genoeg om die eerste plek in dié afdeling te beklink.

Chloë le Roux, ’n gr. 12-leerling aan die Hoër Meisieskool Oranje, was tweede in dié swemnommer met 22:26.

Nog Oranjeniete het uitgeblink. Guilma Lausberg (gr. 12, 23:11) spog met die vierde plek in dié afdeling, terwyl Miché Johns (gr. 11, 23:39) agtste, Francisca van Rooyen (gr. 10, 24:04) tiende en Michaela van Rooyen (gr. 9, 24:08) 11de was.

Om jou ma, ’n topswemmer op haar dag, langs jou in die water te hê sal enige skoolmeisie gemoedsrus gee om die Midmar-myl af te lê.

Monet Meyer (gr. 10) het die myl Sondag die derde keer saam met haar ma, Lelanie, voltooi. Hul tyd was 40:52. Dit was Lelanie se tiende Midmar-swemtog.

Altesaam 99 meisies van die Hoër Meisieskool Oranje het vanjaar die Midmar-myl voltooi.

Die swemmers van Grey-kollege (sekondêr) het ’n opwindende naweek in KwaZulu-Natal gehad. Hulle het eers Vrydag (11/02) en Saterdag aan die Westville-gala deelgeneem en ’n algehele derde plek behaal, waarna hulle die Midmar-myl aangedurf het.

Twee gr. 8-leerlinge, Jedrick Geleta en Peter van Viegen, het podiumplekke behaal in die afdeling vir swemmers 13 jaar en jonger. Jedrick het met 21:23 die eerste plek verwerf, en Peter was derde in ’n tyd van 22:35.

In die mansafdeling (14 tot 30 jaar) het Aiden Nel (gr. 10) en Joel Strauss (gr. 11) onderskeidelik 15de en 17de geëindig.

Maudé Roeloffze, ’n gr. 1-onderwyser aan die Laerskool Willem Postma, het Sondag haar 40ste Midmar-myl in 25 jaar voltooi. Sy het die myl sommige jare in meer as een nommer geswem.

Leerlinge aan dié laerskool het ook goed gevaar. JM van Rooyen (gr. 5) was 35ste in die afdeling vir swemmers 13 jaar en jonger in ’n tyd van 29:22.

Die sussies Katie en Ashleigh de Jager het ook geswem. Katie (gr. 7) was tweede in die afdeling vir swemmers 13 jaar en jonger (26:24) en vierde in haar ouderdomsgroep in die ope afdeling (25:51). Ashleigh (gr. 5) het ook in die ope afdeling vir swemmers 13 jaar en jonger deelgeneem en dit in ’n tyd van 28:24 voltooi.

Nog ’n onderwyser wat sy staal in die water getoon het, was Braam van Wyk, skoolhoof van die St. Michael-skool. Dit was die 20ste jaar dat hy die Midmar-myl voltooi het. Hy het al 25 myl in dié dam afgelê.

Amelia Vincent (gr. 8) van die Eunice High School was derde in die ope afdeling vir swemmers 13 jaar en jonger in ’n tyd van 27:07.

Die tweeling Eunice en Lois Fourie, ook gr. 8-leerlinge aan Eunice, het in die afdeling vir swemmers 13 jaar en jonger meegeding. Eunice was 12de (30:09) en Lois 24ste (31:39).

Altesaam 20 swemmers van die Hoërskool Sentraal het ook vanjaar die Midmar-myl voltooi. Die uitblinkers was Roald Basson (gr. 8), wat met 24:59 die eerste plek in die ope afdeling vir swemmers 13 jaar en jonger was. Dian Bodenstein (gr. 8) was sesde (28:20) in dié ouderdomsgroep. Liam Liversage (gr. 9) het in die ouderdomsgroep 14 tot 30 jaar deelgeneem en met 25:03 die 24ste plek uit die groep van 827 swemmers behaal.

You need to be Logged In to leave a comment.