Die trofeewenners op die Prestige-wiskundeprysuitdeling op 30 November is van links, voor: Tamim Alam, Ricardo Branco en Damien Richards

Die Prestige-wiskundeprysuitdeling wat op 30 November gehou is, was die 11de wat deur dr. Elsie Schoombie en dr. Anelize van Biljon georganiseer en aangebied is.

Leerlinge se volgehoue prestasie deur die jaar in wiskunde-olimpiades word op dié geleentheid beloon.

Leerlinge van gr. 7 tot gr. 12 het aan verskeie olimpiades deelgeneem, onder meer die Nautilus­kompetisie, die Suid-Afrikaanse Wiskundestigting se Uitdaging vir Laerskoolleerlinge, die Suid-Afrikaanse Wiskunde-olimpiade vir gr. 8- tot gr. 12-leerlinge, die Suid-Afrikaanse Wiskunde-spankompetisie en ook internasionale kompetisies soos die Indonesiese internasionale wiskundekompetisie.

Leerlinge wat aan dié kompetisies deelgeneem het, het erkenning vir hul prestasies ontvang. Daar is pryse wat per graad toegeken word, asook pryse vir die beste vordering in 2021 en vir volgehoue prestasie in olimpiades oor baie jare heen. Nelmari du Toit, bestuurder van die Nautilusprojek, het die pryse oorhandig.

Die trofeewenners vir volgehoue prestasie is: Christine Rossouw (gr. 12, Hoërskool Jim Fouché), Ricardo Branco (gr. 11, Grey-kollege), Cara Stevens (gr. 10, Eunice High School), Jana Rossouw (gr. 9, Jim Fouché), Tamim Alam (gr. 7, Grey) en Zecheng Shi (gr. 8, St. Andrew-skool).

Die wenners van die trofeë vir beste vordering in die verskillende grade is: Christine Rossouw (gr. 12, Jim Fouché), Kamohelo Mohono (gr. 11, Welkom High School), Damien Richards (gr. 10, Jim Fouché), Lindsey Neveling (gr. 9, Jim Fouché), Joan-Mari Fouché (gr. 8, Eunice) en Jenna du Plessis (gr. 7, Laerskool Universitas).

  • Die Living Maths-kompetisie word jaarliks in November vir leerlinge van gr. O tot gr. 9 aangebied. Dit is ’n nasionale kompetisie, met selfs deelnemers van die buiteland wat deelneem.

Die kompetisie het ’n informele aard sodat die leerlinge dit sonder hoë druk kan skryf en is daarom geskik om leerlinge gereed te maak vir kompetisies met strawwer mededinging op ’n later stadium.

Die EMS Weet-en-Wisskool se leerlinge neem nou al drie jaar aan hierdie kompetisie deel, en leerlinge presteer elke jaar.

Hierdie jaar was daar ses leerlinge wat onder die top drie nasionaal was.

Zecheng Shi, in gr. 8 aan die St. Andrew-skool, was eerste in die land.

You need to be Logged In to leave a comment.