Taal groei deur sang

Die Bloemfontein-uitdunronde van ATKV-Applous vind op 8 Mei om 18:00 in die Odeion op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) plaas.


Die Bloemfontein-uitdunronde van ATKV-Applous vind op 8 Mei om 18:00 in die Odeion op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) plaas.

Kaartjies is by die deure beskikbaar.

’n Rekordgetal van 225 kore wat vanjaar ingeskryf het, gaan oor die land heen aan die streekfeeste deelneem. Dit is 41 kore meer as in 2022 en die ATKV juig dat dié kompetisie steeds bly groei en sterker word.

Meer as 16 000 koorlede word verwag. Terwyl die organiseerders ure werk om die streekfeeste en beoordelaars bymekaar te kry, oefen die koorleiers en koorlede verbete.

ATKV-Applous is die oudste skoolkoorkompetisie in die land en doen alles denkbaar om nie net die mooiste, mees meevoerende sang na gehore te bring nie, maar ook om Afrikaans as taal ’n massiewe hupstoot te gee.

Daar is piepklein koortjies wat a capella sing en massiewe kore van meer as 140 lede wat instrumente gebruik om saam met hul sang die vloere te laat bewe.

Hulle gaan jou laat lag, laat huil, en weer laat glo aan die wonder van koormusiek. Musiek is die enigste werklik internasionale taal.

Die streekfeeste begin in Bloemfontein en beweeg dan na Kimberley en Potchefstroom die dag daarna.

In Randburg, Middelburg en Nelspruit sing kore op 10 tot 12 Mei vir die beoordelaars en gehore.

Streekfeeste vind ook in Polokwane (15 Mei) en Rustenburg (16 Mei) plaas, en op 18 tot 20 Mei word die Applous-streekfees in Pretoria aangebied.

Van hier af kom die kusbewoners aan die beurt. Op 22 Mei is Oos-Londen en Newcastle aan die sing, 24 Mei in Empangeni en Ballito, en 25 tot 27 Mei word daar driftig opgetree in die mooie Wes-Kaap. Uitenhage en Pietermaritzburg kry sy beurt om ’n klomp kore te onthaal op 23 Mei.

Op 2 Junie word die streekfeeste in Namibië voltooi, daarna sal aangekondig word wie in die finale ronde deelneem.

Die eerste verrassing van die streekfeeste is dat meer as 40 kore in die eindstryd gaan sing.

Hierdie kore sing dieselfde werke wat hulle by die finale kompetisies sal aanbied. Dit sluit Afrikaanse gewyde werke, prettige Afrikaanse liedjies en nuut gekomponeerde Afrikaanse liedere in.

Vir die ATKV gaan dit oor die uitbou en vasmessel van ons singende taal, veral onder die jeug. Die kriteria tydens die uitdunne is vertolking, intonasie, die klank van die koor, tegniese aspekte en artistieke geheelindruk. Die twee tot vier beoordelaars by elke streekfees is soos altyd absolute kundiges in die beoordeling van koormusiek.

Die eindrondes word in die laaste week van Julie in Pretoria gehou, dan vind koorlede en koorleiers ook uit wie die beoordelaars as die beste beskou tydens vanjaar se Applous-kompetisie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.