Tak rol sy moue op

Bloemfontein-Noord se AfriForum-tak het onlangs die inisiatief geneem om ’n omvangryke slaggatprojek in die noorde van dié stad aan te pak.


Bloemfontein-Noord se AfriForum-tak het onlangs die inisiatief geneem om ’n omvangryke slaggatprojek in die noorde van dié stad aan te pak.

Die projek is daarop gemik om Bloemfontein se besige strate wat in ’n benarde toestand is, te herstel sodat dit weer swaar verkeer kan hanteer. Dié gemeenskapsorganisasie se hoofdoel is om ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap te maak, veral wat veiligheid en omgewingsake betref.

Die tak het reeds ongeveer vyf ton teer en 25 liter-seëlmiddel gebruik om die nodige herstelwerk aan paaie te doen.

In samewerking met die padbou-maatskappy Raubex se filiaalmaatskappy Roadmac Resurfacing, het die Bloemfontein-Noord-tak besluit om die projek in vier fases te verdeel. AfriForum het die koste van die nodige materiaal gedek, terwyl Raubex die tegniese kundigheid en arbeid verskaf.

Die eerste fase van die projek, wat die opvul van slaggate op Kayserstraat en die uitgang van die verkeersirkel by Raymond Mhlabastraat insluit, is ná drie dae se werk voltooi. Die slaggate het ’n beduidende risiko vir motoriste ingehou en kon tot ongelukke lei.

Die verbeterings aan hierdie paaie was uiters belangrik, aangesien altwee roetes gereeld swaar verkeer hanteer. Kayserstraat word daagliks deur honderde voertuie gebruik wat na die behuisingskomplekse in Tielman Roosstraat gaan.

Die pad het al so erg verswak dat motoriste genoodsaak was om aan die verkeerde kant van die pad te ry.

Die uitgang by Raymond Mahlabastraat ’n belangrike roete vir noordelike verkeer uit Bloemfontein – was ook in ’n gevaarlike toestand en het al tot erge skade aan voertuie gelei.

“Weens swak munisipale bestuur is die gebrekkige instandhouding van paaie ’n groot risiko vir padgebruikers,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distriks­koördineerder vir Bloemfontein.

“Dit lei tot onnodige skade aan voertuie en verhoog die gevaar van motorongelukke. Dit is onaanvaarbaar dat die Mangaung-metro nie in staat is om sy eie infra­struktuur te onderhou nie, maar dat die gemeenskap eerder gedwing word om hierdie verantwoordelikheid oor te neem.”

AfriForum beoog om ná die feestyd met die tweede fase van die projek te begin.

Die tweede fase behels broodnodige herstelwerk aan paaie in Noordhoek.

Dit sluit David Fourie- en Ursinusstraat, asook die ingang na Wardenstraat vanaf Wilcocksweg in.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.