Die eerste eisteddfod vir mense met gestremdhede in Bloemfontein vind in Augustus plaas.
Ebeth Wilson, voorsitter van die ATKV se Gemeenskapsteater-tak, sê hulle hoop die geleentheid kan ’n jaarlikse instelling word en dat dit later ook oor die land heen sal plaasvind.
Met dié eisteddfod wil die ATKV ’n veilige, opbouende platform vir kinders en volwassenes met gestremdhede skep en hulle die geleentheid bied om hul verskuilde talente op die verhoog ten toon te stel.
Deelnemers wys op 15 Augustus hul slag in drama, dansers neem op 16 Augustus deel en op 17 Augustus kom musiek aan die beurt.
In die drama-afdeling kan meegeding word in voordrag en die spreekkoor-nommer. Die dans-afdeling betrek ritme-groepe en rubberstewel-dansers (“gumboot dancing”). In die musiek-afdeling is nommers vir kore en individueel in sang, asook vir instrumente.
Die ouderdomsgroepe waarin deelgeneem kan word, is: 13 jaar en jonger; 14 tot 18 jaar; en 18 jaar en ouer.
Inskrywing kos R20 per nommer en sluit op Maandag 7 Augustus om 12:00.
Die eisteddfod word in die Lettie Fouché-skoolsaal aangebied. Toegang om te sien hoe die deelnemers optree, kos R10.
Belangstellendes kan hul navrae na bloemfonteingemeenskapsteater @gmail.com rig.