Miané Smit is vir die Suid-Afrikaanse opkomende vrouekrieketspan gekies wat vandeesweek teen Nieu-Seeland speel.Foto: Verskaf

Die veelsydige jong krieketspeler en hoofmeisie van die Hoër Meisieskool Oranje, Miané Smit, is deel van die Suid-Afrikaanse opkomende vrouekrieketspan wat vandeesweek ’n oefenwedstryd teen Nieu-Seeland speel.

Miané het reeds verlede jaar vir dié span gespeel toe sy in ’n wedstryd teen Zimbabwe gespeel het en 3/23 behaal het asook 45 lopies van net 30 balle geslaan het.

Sy was vroeër vanjaar deel van die Suid-Afrikaanse o.19-krieketspan wat aan die Internasionale Krieketraad se T20-wêreld­beker vir o.19-vrouespanne deelgeneem het.

Sy is ook deel van die Vrystaatse vrouekrieketspan wat die promosie-afdeling vir die 2022-’23-seisoen gewen het.

Die opkomende span speel Donderdag in Benoni in ’n eendagwedstryd wat as oefening dien vir die Nieu-Seelanders.

Dit sal dus vir Miané en haar spanlede waardevolle ervaring teen die Nieu-Seelanders gee.

Nieu-Seeland is in Suid-Afrika vir ’n reeks van drie eendag- en vyf T20-wedstryde teen die Proteas wat Sondag in Potchefstroom begin.

You need to be Logged In to leave a comment.