Talent wat in Bloemfontein gekweek is, gaan na Paralimpiese Spele

Opwinding is nou aan die opbou nadat die Suid-Afrikaanse Paralimpiese span, waaronder ’n hele paar Bloemfonteiners of atlete met Bloemfonteinse bande, pas aangekondig is.


Opwinding is nou aan die opbou nadat die Suid-Afrikaanse Paralimpiese span, waaronder ’n hele paar Bloemfonteiners of atlete met Bloemfonteinse bande, pas aangekondig is.

Die Olimpiese en Paralimpiese komitee van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie (Sascoc) het vandag aangekondig dat daar voorlopig 26 sportmanne en -vroue is wat Suid-Afrika op die Paralimpiese Spele vir 2024 in Parys gaan verteenwoordig. Kwalifikasie vir sommige sportkodes het nog nie gesluit nie, wat beteken dat nog Suid-Afrikaners deel van die span kan wees.

Louzanne Coetzee (T11), wat op die vorige Paralimpiese Spele in Tokio in 2021 ’n silwer- en ’n bronsmedalje in atletiek verower het, asook haar twee gidse, Claus Kempen (marathon) en Estean Badenhorst (1 500 m), gaan weer na die spele.

Khumo Pitso, ’n oudleerling van die Hoërskool Sentraal en nou ’n student aan die Noordwes-Universiteit, gaan deelneem aan hoogspring (T46).

Oudleerling van die Martie du Plessis-skool Karabo Morapedi (BC3) en sy gids, Vincent Ramochela, gaan vanjaar vir die eerste keer aan boccia op die spele deelneem.

Nog ’n Bloemfonteiner, Marisa Potgieter, gaan na die spele as een van die bestuurders van die boccia-span.

Bloemfonteiner Ernesta Strydom gaan vanjaar na haar vyfde Paralimpiese Spele, as internasionale tegniese atletiekbeampte.

Die spele vind van 28 Augustus tot 8 September plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.