Talle antiekeware gou onder die hamer

Erfenisdag (24 September) gaan vanjaar besonders wees met ’n veiling van antiekeware en versamelaarsitems wat in die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke aangebied gaan word.


Mense van oor die Vrystaat heen wat mooi antiekeware en versamelaarsitems het wat hulle op ’n veiling wil verkoop, kan deelneem aan die Erfenisdagveiling op 24 September in Bloemfontein.

Dié veiling ten bate van Sentraal24 en Volksblad se Kersfonds, word vanjaar in die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke aangebied.

Die reëlingskomitee in samewerking met Pieter Erasmus van Bainsvlei-afslaers het reeds begin om voorraad vir dié besonderse veiling te kry.

Betsie Roux, voorsitter van die reëlingskomitee, sê voorraad vir die veiling word gekeur om ’n veiling van goeie standaard te hou. “Ons wil graag ’n veiling aanbied waar mense regtig spesiale items kan koop. Ons fokus is op mooi en interessante versamelaarsitems en antieke meubels.”

Saam met die veiling gaan daar dié dag ook ’n mark, deur die Hospice-winkel op die perseel van die Oorlogsmuseum, aangebied word. Kunstenaars word ook genooi om hul skilderye dan te vertoon en te verkoop.

Inskrywings vir die veiling kan tot 18 September gemaak word en reëlings kan getref word om voorraad by Bainsvlei-afslaers af te laai.

  • Registrasie vir almal wat aan die veiling wil deelneem, word op die dag van die veiling gedoen. Die registrasiegeld van R50 asook ’n deel van die kopers- en verkoperskommissie van elke item wat verkoop word, word aan die Kersfonds geskenk.
  •  Hou Bloemnuus en Bainsvlei-afslaers se Facebook-blaaie dop vir foto’s van die voorraad. Besigtiging van die voorraad sal die Saterdag vanaf 08:00 in die museum gedoen kan word waarna die veiling om 12:00 begin. Rig navrae aan Roux by 082-413-9275.
  •  Skenkings aan die fonds kan gedoen word by die volgende rekening-besonderhede: Volksblad Kersfonds, Nedbank-tjek­rekening 102 891 9980, takkode 117 134. Stuur ’n afskrif van die betaling­strokie per e-pos na ria@engo.co.za.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.