Tamaaie tamatie gesoek

Wie kan die grootste tamatie in Bloemfontein kweek?.


Wie kan die grootste tamatie in Bloemfontein kweek?

Tuinghoeroe Thabo Olivier daag Bloemfonteiners uit om deel te neem aan ’n splinternuwe kompetisie waarin hy wil wys dat dit groot pret kan wees om volhoubare voedselproduksie te vestig.

In die proses wil hy ’n saadbank van 1 miljoen tamatiesade opbou.

Thabo leer Bloemfonteiners en Suid-Afrikaners al vir jare hoe om volhoubaar tuin te maak en is uiters opgewonde oor ’n kompetisie om te kyk wie Bloemfontein se grootste tamatie kan kweek.

“Met die Reuse-tamatie-kompetisie wil ek jonk en oud in die tuin kry om groente te produseer. Dit is nie net baie gesond om jou eie groente te hê nie, dit is ook baie pret.”

Thabo gaan 1 000 saailinge beskikbaar stel waarvan die eerste 420 van Vrydag (28/10) af teen R100 elk by die Greenside-kwekery in Langenhovenpark verkoop gaan word.

“Al die geld wat met verkoop van die plantjies gemaak word, gaan aan Tholwana e Molemo, ’n nie-winsgewende organisasie wat werksessies oor voedselsekuriteit aan skole, kerke, gemeenskapsorganisasies en woonbuurtforums in die stad aanbied,” sê Thabo.

Die laaste dag waarop die saailinge verkoop gaan word, is 31 Desember. Van nou tot 31 Maart waarop die kompetisie sluit, kan almal wat van dié Mortgage Lifter-tamaties by Greenside gekoop het, hul grootste tamaties daarheen bring om geweeg te word.

Die grootste drie tamaties van laerskoolleerlinge, in die afdeling vir hoërskoolleerlinge en ’n algemene kategorie sal met pryse beloon word.

“Wie wil nie spog daarmee dat húlle die grootste tamatie in Bloemfontein gekweek het nie?” sê Thabo.

Hy het besluit om saailinge te kweek vir die kompetisie eerder as om sade beskikbaar te stel, omdat dit die proses heelwat makliker maak vir tuiniers.

“Die saailinge is gemaak van erfenissade,” sê hy.

Van die wêreld se grootste tamaties het die skaal al op 2 kg getrek.

“Hierdie Mortgage Lifter-tamaties kan met genoeg liefde en aandag makik tot net so onder 1 kg groei. Ek het self al ’n paar knewels gepluk.”

Thabo is ook bekend daarvoor dat hy reuse-pampoene gekweek het en die sade wyd versprei het.

  • Saam met elke tamatie-plantjie wat deelnemers by Greenside koop, kry hulle ’n pamflet met instruksies. Thabo sê hulle gaan ook gereeld video’s op sosiale media en Facebook-blaaie plaas om vir deelnemers wenke te gee. Saam met Thabo ondersteun Bloemnuus, MedFM, Greenside-kwekery en My City Bloemfontein dié kompetisie. Hou Bloemnuus en Bloemnuus se Facebook-blad dop vir meer inligting oor die kompetisie asook meer oor die pryse wat op die spel is.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.