Tamatiepret: Wenners kweek die grotes

Sy wen-tamatie het die skaal op 550 g getrek: genoeg vir die titel Grootste Tamatie in Bloemfontein.


Sy wen-tamatie het die skaal op 550 g getrek: genoeg vir die titel Grootste Tamatie in Bloemfontein.

Mpheteng Motseki was een van die mense wat deelgeneem het aan tuinghoeroe Thabo Olivier se Reuse-tamatie-uitdaging om die grootste tamatie in die stad uit Mortgage Lifter-saailinge te oes.

Deelnemers kon die saailinge tot einde Desember by die Greenside-kwekery koop en kon hul grootste tamaties wat van dié plantjies geoes word, na Greenside bring om hulle te laat weeg. Die wins uit die verkoop van die tamaties is geskenk aan Tholwana e Molemo, ’n nie-winsgewende organisasie wat werksessies oor voedselsekuriteit aanbied.

Die wenners is vandeesweek aangekondig. Die naaswenner is Ziona Palmer, ’n gr. 9-leerling van die Hoër Meisieskool Oranje wie se swaarte tamatie 460 g geweeg het met Sunita Keyser se tamatie van 445 g in die derde plek.

Mpheteng en sy vrou, Dikonelo, bly op ’n hoewe in Hoëveld naby Bloemspruit. Hulle is ywerige tuiniers.

Dikonelo sê hul tamaties het baie liefde en kompos gekry.

“Ons het die kleiner tamaties bly afsny om dié wat groot word, ’n beter kans te gee om uit te swel,” sê Mpheteng.

Ziona is baie lief vir tuinmaak, al van kleintyd af. Sy sê sy was opgewonde toe sy hoor van die kompetisie en het twee plantjies gekoop. Hulle bly ook op ’n hoewe by Ribbesdale.

Sunita het net een plantjie gekoop. “Ek het mooi met die plantjie gepraat terwyl ek hom versorg het,” vertel sy. “Dit is regtig baie lekker tamaties en ek het die heerlikste tamatiesmoor daarvan gekook.”

Jan van Blerk, eienaar van Greenside, sê hulle het self van die tamaties gekweek en kan getuig dat die tamaties nie net groot word nie, maar dit van baie goeie gehalte is met ’n diep, ryk tamatiesmaak.

“Die stamme word lekker dik om die groot tamaties te kan dra.”

Jan sê mense het die kompetisie sommer baie geniet.

Thabo se doel met dié kompetisie is om ’n groot saadbank in Bloemfontein te vestig.

“Van my tamaties het tot 700 g groot geword en ek het al self sowat 10 000 sade geoes,” vertel hy.

As ’n mens hierdie sade nou weer in die toekoms gebruik, kan jou tamaties geleidelik groter word.

“Die grootste pampoen in Suid-Afrika was ’n paar jaar terug sowat 300 kg en nou trek dit meer as 700 kg,” sê Thabo.

Die drie wenners het lekker pryse ontvang.

Die wenner het R2 000 se koopbewyse van Greenside gekry, R1500 vir die tweede plek en R1000 vir die derde plek.

Bloemnuus gee ook geskenkbewyse van onderskeidelik R1000, R600 en R400 vir die drie wenners en Thabo gee ook kontantpryse vir die wenners.

“Oor ’n paar jaar sal ons lekker groot tamaties in Bloemfontein kweek,” sê hy oor hierdie kompetisie wat vanjaar vir die eerste keer aangebied is.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.