Tannie Baby se projek voltooi

’n Projek wat tannie Baby Lange – wat onlangs oorlede is – sowat drie jaar gelede begin het, is danksy haar dogter en ’n paar flukse vroue nou afgehandel.


’n Projek wat tannie Baby Lange – wat onlangs oorlede is – sowat drie jaar gelede begin het, is danksy haar dogter en ’n paar flukse vroue nou afgehandel.

Tannie Baby was haar lewe lank met die een of ander projek besig, en ná haar aftrede het sy haar op liefdadigheid toegespits.

Sowat drie jaar gelede het sy besluit sy wil ’n kombers vir elke inwoner van die Mooihawe-tehuis se afdeling vir verswakte bejaardes laat maak.

Sy wou graag 60 komberse vir die projek laat brei of hekel en het ander vroue aangemoedig om te help.

Eindelik het 12 vroue haar hiermee gehelp.

In November het sy siek geword en die oorhandiging is tot Januarie uitgestel, maar sy is op 27 Desember in die ouderdom van 86 jaar oorlede.

Haar kinders en kleinkinders het kaste vol komberse ontdek.

Tannie Baby se dogter Ansie Nel het besluit om haar ma se droom tot uitvoering te bring.

Sy het die reëlings vir die oor­handiging oorgeneem en op 2 Junie is 76 komberse aan Mooihawe oorhandig.

Ansie sê haar ma was die kreatiefste en produktiefste mens wat sy geken het.

“Sy het ’n oop hand gehad en was altyd gereed om iets vir iemand te doen of te gee,” sê Ansie.

“Sy het selfs nog in die hospitaal gehekel terwyl sy al baie siek was.”

Ansie is baie dankbaar dat sy haar ma se laaste projek en droom kon uitvoer.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.