Só het ds. Robbie du Toit van die NG kerk Estoire gesê op ’n gebedsbyeenkoms wat Donderdag (19/05) by die Mediclinic Bloemfontein vir Joan Abrahams gehou is.
Abrahams – of tannie Mossie, soos sy wyd bekend staan – is sedert verlede Woensdag in die hospitaal nadat sy in haar huis in Westdene ’n beroerte gehad het.
Chappies van Zyl van Rooiplaas het ’n gebedsgeleentheid by die hospitaal gereël sodat mense vir haar kon bid. Die geleentheid is ook aanlyn uitgesaai.
“Dankie dat ons deur ons gebede vandag ’n bos blomme vir tannie Mossie kon bring,” het Du Toit op die byeenkoms gesê.
Oud-valskermsoldate en leerlinge van die St Andrew-skool en Grey-kollege (sekondêr), asook oudleerlinge en onderwysers van die Meisieskool Oranje, waar tannie Mossie vroeër ’n onderwyser was, het die gebedsgeleentheid bygewoon. Haar broer Paul Abrahams van Kaapstad en suster Geraldine Smit van Rawsonville was ook teenwoordig.
Volgens Barbara Steenkamp, woordvoerder vir die hospitaal, is tannie Mossie Donderdag van die waakeenheid na ’n gewone saal oorgeplaas. Haar toestand is nog onveranderd, en die uitslae van toetse word afgewag. Die familie het versoek dat geen besoekers by haar toegelaat word nie.
Tannie Mossie, wat sedert 1965 in Bloemfontein woon, is bekend vir die ½ c- en 1c-muntstukke wat sy as bemoediging gestuur het vir soldate wat van Tempe na die destydse grensoorlog vertrek het.
Dié sente, met ’n beeld van twee mossies, het Matteus 10:29-31 versinnebeeld. Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.
Boonop het sy leerlinge van Oranje en Grey, en ook later kinders van oor die Vrystaat heen, aangespoor om briewe te skryf om die soldate op die grens te bemoedig.
Tannie Mossie is bekend vir haar wye kennis van Bloemfonteinse geskiedenis.
- Bloemnuus het op 22 April verlede jaar berig dat die FAK tannie Mossie vereer het vir haar bevordering van die Afrikanerkultuur en -geskiedenis. Sy het dit as ’n groot kompliment beskou, aangesien sy ’n Engelssprekende Suid-Afrikaner is.