Terwyl Bloemfonteiners wag op pres. Cyril Ramaphosa se presiden­siële imbizo, wat Saterdag (09/04) in die stad gaan plaasvind, neem inwoners bekommerd kennis van die hoë styging in munisipale tariewe.

Inwoners van Mangaung gaan op 1 Julie altesaam 9% meer vir water, 6% meer vir erfbelasting, 4,8% meer vir vullisverwydering en 2,4% meer vir sanitasie moet opdok.

Die stygings in munisipale tariewe is vervat in die Mangaung-metro se konsepbegroting vir die 2022-’23-boekjaar wat Donderdag (31/04) op ’n spesiale raadsvergadering ter tafel gelê is.

Intussen het die Nasionale Raad van Provinsies se komitee vir water, sanitasie en spesiale ekonomiese sones Vrydag (01/04) gesê hy gaan aanbeveel dat die Mangaung-metro onder ’n art. 139 (7)-ingryping geplaas word.

Met só ’n ingryping moet die nasionale tesourie en departement van samewerkende regering deel van die oplossing word deur die uitvoerende mag by die metro oor te neem. Die metro behou egter sy wetgewende mag.

Itumeleng Ntsube, komiteevoorsitter, het op ’n nuuskonferensie gesê swak dienslewering en politieke binnegevegte is die rede vir die aanbeveling oor Mangaung.

Die verhoogde tariewe geld inwoners van die groter Mangaung-metro, wat Bloemfontein, Dewetsdorp, Wepener, Vanstadensrus, Botshabelo, Thaba Nchu en Soutpan insluit. Tesame met ander stygings in lewenskostes gaan dit sakke ruk.

Volgens Sabata Mofokeng, finansiële hoof van die metro, is slegs die styging in watertariewe in Mangaung hoër as die inflasiekoers.

Die voorgestelde verhoging van 9% stem ooreen met die verhogings wat by Bloemwater in werking getree het.

Hy sê erfbelasting sal styg met 6%, wat binne die inflasieriglyne van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur is.

“Inwoners sal afslag kry op die eerste R100 000 van hul eiendom waarop hulle nie erfbelasting sal betaal nie. Mense wie se eiendom minder as R100 000 werd is, betaal nie erfbelasting nie.”

Pensioentrekkers betaal nie erfbelasting op die eerste R300 000 van hul eiendom nie. Dié bedrag is van R250 000 na R300 000 verhoog.

“Nie-residensiële eiendomme soos sakeondernemings en staatspersele se erfbelasting word met 7% verminder,” sê Mofokeng.

Sanitasietariewe word met 2,4% verhoog. Afslag word ook hier verhoog waar inwoners nie op die eerste R100 000 van die erf se waardasie vir sanitasie betaal nie. Dit was voorheen R80 000.

Vullisverwydering styg met 4,8% en elektrisiteit met 4,8%, afhangend van wat die Nasionale Energie­reguleerder van Suid-Afrika (Nersa) vorentoe gaan doen.

Met die bespreking van die geïntegreerde ontwikkelingsplan het Dave McKay, DA-raadslid, versoek dat munisipale verhogings nie ingestel word nie omdat inwoners kla dat munisipale dienste nie gelewer word nie.

Rossouw Botes, DA-raadslid, sê verhogings kom te midde van ’n nuwe waardasierol wat ook van 1 Julie geld. Dit word elke vyf jaar gedoen en inwoners se erfbelastings­tariewe word daarvolgens bereken.

Dr. Nkosazana Dlamini Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, en Mmamoloko Kubayi, minister van menslike nedersettings, was Dinsdag (05/04) in die stad.

Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, besoek Vrydag (08/04) die stad om ’n oorsigbesoek aan ontwikkelings by Tempe te lewer.

You need to be Logged In to leave a comment.