Die eienaar van The Rabbit-teaterskool, Xander Steyn, gaan volgende jaar sy kundigheid uitbrei met kort kursusse in televisie en film in Kaapstad.

Terwyl hy sy horisonne verbreed, gaan hy steeds nou betrokke wees by die teaterskool; maar twee talentvolle Bloemfonteiners en gereelde gesigte in Xander se produksies, Jené Heymans en CW Laten, sluit hulle as direkteure by The Rabbit aan.

“Hulle het baie ondervinding, en ek is vol vertroue dat hul leierskap die skool na selfs hoër hoogtes sal neem,” sê Xander oor hul aanstelling.

Heymans is ‘n dinamiese vryskut-akteur, stemkunstenaar, kinematograaf en regisseur.

Sy het in 2016 ‘n BA-graad in drama en teaterkuns aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) behaal. Sy het ook ‘n honeursgraad in film en visuele media, wat sy in 2017 behaal het.

Sy is al sedert 2018 by The Rabbit-teaterskool betrokke en het sedertdien in elke produksie opgetree.

Sy dien as verhoogbestuurder en help met die verhoogdekor en kreatiewe kostuums.

Sy het al verskeie pryse as akteur en regisseur ontvang. Van die hoogtepunte in haar loopbaan sluit in produksies soos Katgriep (2017), prys vir beste kortfilm; Tom en Tracy in Tandeland (2023); en Hans Haas (2020 tot 2025), wat vir beste kostuums benoem is. Daar was ook ‘n Fiësta-eerbewys vir Hans Haas in 2023.

As mede-regisseur van Perspectives op Perspectives of Love (2025) het hulle benoemings ontvang vir beste kostuumontwerp, beste stelontwerp en as beste regisseur.

CW is ook ‘n ou hand in die bedryf.

Hy het in 2013 ‘n BA-graad in drama en teaterkuns aan die UV behaal en in 2014 ‘n honneursgraad voltooi, met spesialisering in die riller-genre.

Hy het op die Vrystaat Kunstefees benoemings ontvang vir Tom gaan plaas toe (2022) en Verdot (2023), en hy het ook in Die Skuldeiser (2023) en Some Mother’s Sons (2016).

CW se debuut as regisseur was in 2015 met die kabaret Edith Piaf en Jacques Brell Tribute op die Vrystaat Kunstefees.

Hy was ook regisseur vir poduksies soos die ATKV-tak Gemeenskapsteater se passiespel Daar is die Lam, sowel as die kinder-trilogie Wille-Woeste-Weste.

Teatergangers kan uitsien na nog ‘n heerlik prettige musikale komedie uit Xander se pen met Cinderella, wat van 27 tot 29 November te sien is.

Kaartjies kos R100 en is aanlyn beskikbaar op rabbithouse.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.