Die teatermaker, akteur, skrywer, regisseur en vervaardiger Sjaka Septembier gooi homself behoorlik kop eerste in die Vrystaat Kunstefees.
Die fees, wat van 2 tot 8 Oktober op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) aangebied word, bring ’n groot verskeidenheid kunsproduksies na die Vrystaatse hoofstad.
Onder dié produksies is Sjaka by drie produksies betrokke.
Die kunstenaar – wat lank deel van die kunsgroep Porselynnkas uitgemaak het – het in Mei vanjaar saam met sy vrou, Isabelle, en hul hond Basjan na Bloemfontein verhuis.
“Ons hart is nog in die Kaap, waar ons branderplanke stof vergader. Ons bekyk Bloemfontein as ’n nuwe avontuur en is gretig om nuwe mense te ontmoet.”
Sjaka het reeds sy buiging op die Vrystaat Kunstefees se minimark gemaak toe Stinkie die Nar in die Callie Humansaal tussen die uitstallers kom kuier het.
Dit is juis Stinkie wat een van die karakters is in Sjaka se eenmanvertoning Dolliwarie Draadwerk, Dolliwarie Dood, wat op die fees gesien sal kan word.
Hy beskryf Dolliwarie as ’n drama-komedie, iets wat jou sal laat nadink.
Hy is ook betrokke by die werksessie Pen to Paper waar skrywers hul kennis deel.
Sjaka is ook baie opgewonde oor sy eerste roman Die Bardo van Biko April, uitgegee deur Turksvy-uitgewers, wat op die fees bekend gestel gaan word.
Die boek word deur Turksvy-uitgewers uitgegee.
’n Boekgesprek vind op Maandag 3 Oktober om 14:00 plaas. Die kaartjies hiervoor kos R30 en R35 by die deur na die Netwerk24-feeskafee (in die parkeerterrein langs die Eeufeeskomleks). Willem van der Berg sal die gesprek lei.
Dolliwarie Draadwerk, Dolliwarie Dood is op 4 Oktober om 14:00, 5 Oktober om 20:30 en 7 Oktober om 14:00 in die ATKV Sonnedou-Gazellie te sien.
Kaartjies kos R120 en R130 en is by die deur beskikbaar.
Kry die program vir vanjaar se fees by vrystaatkunstefees.co.za.