Studente van die departement drama en teaterkuns aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) is van vandag af te sien in die toneelstuk Huishou, geskryf deur Philip Rademeyer.
Die toneelstuk handel oor Dirkie en Hester wat in die proses is om ’n swart kind aan te neem. Die aannemingsproses word deur Dirkie gedryf, wat voel dit is haar en Hester se politieke plig om tot die reënboognasie by te dra, terwyl Hester, ná ’n besoek aan haar tuisdorp, haar eie identiteit en oorsprong begin bevraagteken.
Die situasie plaas spanning op die twee se huwelik, aangesien albei aan hul eie beginsels vasklou en skielik besef dat hulle uiteenlopende drome en ambisies het. Die toneelstuk ondersoek die impak op die karakters se verhouding, veral ten opsigte van “ek” teenoor “ons”, asook verskillende drome en ambisies.
Die produksie is te sien vanaf 6 tot 8 September om 18:00 in die Wynand Mouton-teater. Regie word behartig deur Thys Heydenrych met Mia Kahts en Lize-Mari Malan in die rolverdeling, albei honneursstudente wat spesialiseer in toneelspel.
Kaartjies is beskikbaar deur Webtickets.