BLOEMFONTEIN – Kersvader is met groot glimlagte begroet toe hy en drie Cheetah-rugbyspelers op Sondag 14 Desember teddiebere in hospitale uitgedeel het.
Vanjaar sal meer as 10 000 teddiebere deur Kersvader en sy span versprei word aan kinders wat in hospitale oor die land heen behandeling ontvang.

Dit vorm deel van die veldtog Golfing4Teddies (G4T) wat al die afgelope dekade elke jaar oor Kerstyd siek kinders se hart bly maak.
‘n Golfdag is op 2 Desember aangebied, en tesame met die inkomste uit die dag waarby bekendes en borge van ondernemings van oraloor betrokke was, is die beertjies gekoop.

Megan en Heinrich du Preez het G4T in 2015 begin.
” ‘n Teddiebeer is nie net ‘n sagte, wollerige speelding nie, dit is ‘n maatjie vir ‘n kind wat deur ‘n swaar tyd gaan,” het Megan Sondag by Mediclinic Bloemfontein gesê.
“Dit is regtig nie lekker vir kinders om in die hospitaal te wees nie. Dit is nog erger om hierdie tyd van die jaar siek te wees. Met hierdie projek wil ons hulle net op ‘n klein manier bederf.”

Die eerste ding wat die kinders doen, is om hul nuwe teddiebeer-vriendjie ‘n stywe drukkie te gee. Megan sê hul missie is om alle kinders te laat beter voel: dié in openbare en private hospitale oor die land heen.
Die span het Sondag drie hospitale in Bloemfontein besoek. Hul eerste stilhouplek waar Kersvader sy sakke vol teddies oopgemaak het, was die Life Rosepark-hospitaal.
Hier het Kersvader en sy helpers 36 teddies uitgedeel.
By Mediclinic Bloemfontein het die Cheetah-rugbyspelers Franco Smith, Mihlali Mosi en Ntokozo Makhaza saam met Kersvader die pediatriese saal besoek.
Remofilwe Marolo (5) het haar teddiebeer styf vasgedruk en saam met Kersvader vir die kamera geglimlag.
In die voorportaal het twee kinders wat vir hul ma in die hospitaal kom kuier het, ook elk ‘n teddiebeer en ‘n koekie gekry. Ouma Louise Nel sê dit is nie vir die kinders lekker om hul mamma in die hospitaal te sien nie. Altesaam 42 teddies is by Mediclinic uitgedeel voordat die span teddiebere na die Universitas- Akademiese Hospitaal geneem het.

Die span het uit Bloemfontein vertrek na Beaufort-Wes en reis van daar na Kleinmond en Hermanus; dan na plekke al langs die tuinroete tot in Gqeberha; en van daar na Durban op 21 en 22 Desember, voordat hulle na Gauteng terugkeer.






You must be logged in to post a comment.