Watervoorsiening behoort teen vanaand of op die laaste Donderdag (23/02) weer normaal te wees in die Mangaung-metro.
Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-metro, sê die metro se waterverskaffer Bloemwater werk onverpoos om waterverskaffing oral in die stad na normaal te herstel.
Sommige inwoners sê daar was weer water in hul krane, maar dit was baie vuil.
Khedama sê die rede vir die tekort aan watter in sommige dele van die stad, is die hoë vlakke van reënval die afgelope tyd wat probleme met ’n pomp veroorsaak het. Minder water kon dus behandel word en dit het gelei tot ’n tekort in die waterverskaffing en reservoirs wat leeg geloop het.
Khedama sê sommige dele se water is reeds ten volle herstel. Die water kom uit die Brandkop- en Longridge-reservoirs.
Hy sê watertenks gaan na hoogliggende dele in Fleurdal, Phelindaba en dele van Rocklands geneem word waar inwoners steeds min of geen water het nie.