Teer saak straat vir straat aangepak

Meer as 200 slaggate is verlede week deur die West­dene-woonbuurtvereniging gevul.


Meer as 200 slaggate is verlede week deur die West­dene-woonbuurtvereniging gevul.

Volgens Henry Symington van die vereniging is ’n BackaBuddy-veldtog begin om geld vir dié reuse-taak in te samel.

Arbeid en toerusting word deur die padbou- en konstruksiemaatskappy Raubex geborg, maar die vereniging koop self die teer waarmee die gate gevul word.

Motoriste is veral bly dat die stuk pad op die hoek van Tweede Laan en Kellnerstraat danksy dié projek weer “rybaar” is. ’n Lang gat was die nadraai van padwerke wat destyds hier gedoen is.

Volgens Symington is 36 slaggate in Brillstraat en 41 in President Steynstraat op Dinsdag 29 Maart gevul.

Die volgende dag was President Reitzlaan aan die beurt, met 30 slaggate wat gevul is. Altesaam 49 slaggate is ook in Tweede Laan gevul.

Donderdag (31/03) is 18 slaggate in Eerste Laan, 4 in Derde Laan, 15 in Kellnerstraat en 9 in Raymond Mhlabastraat gevul.

“Ons is dankbaar vir almal in die woonbuurt wat dié projek ondersteun,” sê Symington.

“Ons doelwit is om R15 000 in te samel om die koste van die teer te dek. Ons is amper daar en glo ons sal dit binne ’n week bereik.

“Elke skenking, hoe klein ook al, maak ’n verskil en stel ons in staat om nog meer vir die woonbuurt te doen.”

Hy moedig inwoners en ondernemings aan om by die woonbuurtvereniging aan te sluit.

“Ons beoog om binne die volgende weke padtekens te verf waar dit baie dof en verweer is. Veral by die stop­strate skep dowwe strepe ’n risiko vir motoriste.

  • “Ons hoop ondernemings en inwoners sal ons ondersteun om dié projek te voltooi.” Belangstellendes kan Symington se projek op die webblad backabuddy.co.za soek om betrokke te raak. Navrae oor die vereniging kan na info@­westdene.net gestuur word.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.