Tekkies tref die teer kort voor Comrades om egpaar se droom uit te bou

Net drie weke voor die Comrades-marathon het ’n egpaar van Bloemfontein saam met ’n paar ander dapper hardlopers 100,6 km deur die stad se strate afgelê.


Net drie weke voor die Comrades-marathon het ’n egpaar van Bloemfontein saam met ’n paar ander dapper hardlopers 100,6 km deur die stad se strate afgelê.

Dewald Fourie en sy vrou, Yolandi, wat in Februarie The Pace Foundation gestig het, het met ’n reuse-poging Vrydag (19/05) geld ingesamel vir klein Janique Venter (5) se kankerbehandeling.

Janique is die dogter van Nadine Mukheibir en Jacques Venter wat op ses maande met neuroblastoom-kanker gediagnoseer is. Sy het in haar jong lewe deurlopend duur behandeling ontvang.

Dewald vertel dit was Bernie Naude van Radio Rosestad se idee dat hulle 100,6 km hardloop, en die groep het 26 ondernemings, asook die Laerskool Willem Postma, deur die loop van die dag besoek.

Dewald en Yolandi, asook Craig Otty en Floors Welthagen, het die hele afstand in 13 en ’n half uur gehardloop en was altesaam 15 en ’n half uur op die roete. Saam met hulle het Jeannine Gibson 68 km afgelê, en Isoray Boucher het die hele afstand op ’n fiets voltooi.

Die groep hardlopers het net ná 11:00 by die Laerskool Willem Postma aangedoen, waar die leerlinge vir hulle ’n erewag om die rugbyveld gevorm het.

Dewald en Yolandi se dogtertjie Karla was 22 maande oud toe sy in 2009 oorlede is nadat sy in ’n swembad geval het. Klein Karla was vyf dae in die hospitaal voordat sy oorlede is.

Die Fourie-egpaar het in 2022 die Comrades ter ere van Karla gehardloop, en kort daarna het hulle besluit om families wat deur soortgelyke traumatiese ervarings gaan te help.

“Baie mense wat ons nie eens ken nie, het ons destyds gehelp toe ons alles verloor het nadat Karla oorlede is,” sê Dewald.

“Ons kan haar nie terugbring nie, maar met The Pace Foundation kan ons ander ouers bystaan.

“Ons beplan reeds kliphard aan ons volgende projek, The Road to Comrades,” vertel Dewald.

“Met die geld wat ons tydens vanjaar se Comrades insamel, wil ons in Desember ernstige siek kinders in die Universitas-hospitaal met Kersgeskenke bederf.”

Kry meer inligting oor Janique en ander projekte wat die egpaar ondersteun op die Facebook-blad The Pace Foundation.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.