Talle inwoners van Bloemfontein was bekommerd oor die verwydering van die bekende tenk op die hoek van Furstenburgstraat en Nelson Mandelarylaan wat vir so lank ‘n baken in die stad was.
Die goeie nuus is dat dié tenk aanvanklik verwyder is met die oog daarop om dit as onderdele vir ‘n ander tenk te gebruik, maar dat bevind is dat die tenk in ‘n baie beter toestand is as wat vermoed word.
Maj. Dana Swanepoel, museumbestuurder van die Pantserskoolmuseum in Tempe, sê die T-34/85-tenk gaan nou ten volle gerestoureer word. Wanneer die proses voltooi is, gaan die tenk ‘n ereplek in die WonderMil Militêre Museum in Pretoria kry. Swanepoel sê die span van dié museum het ingestem om die tenk te restoureer sodat dit weer rybaar is.
Die T-34/85 is ‘n mediumgrootte Soviet-tenk wat in 1944 die vroeëre T-34/76 vervang het. Dit het ‘n kragitge 85mm geweer en ‘n verbeterde toring-ontwerp. Dié soort tenk het ‘n groot rol gespeel in die tweede helfte van die Tweede Wêreldoorlog. Die tenk se ontwerp was so effektief, dat dit selfs dekades later nog in diens was – eers in die Koreaanse oorlog (1950 tot 1953) en ook deur verskeie lande in Afrika.
Dié spesifieke tenk wat vir so lank die hekwag by Furstenburgstraat was, is deur Suid-Afrikaanse magte afgeneem in die grensoorlog. Dit is in die jare 1990 aan die Suid-Afrikaanse Pantsterskoolmuseum geskenk.
Swanepoel sê daar is nog drie van hierdie tenks in Pantserskool se besit. Die een is deel van die Pantserskoolmuseum se buite-uitstallings, een is nog operasioneel en is tuis op die plaas Leeuwberg buite Bloemfontein waar dit gereeld gebruik word vir spesiale geleenthede wat veldslae tydens die Tweede Wêreldoorlog naboots.
Die derde tenk is geoormerk vir meganiese restourasie.
Swanepoel sê die platvorm waarop die tenk was, gaan ook verbeter word voordat ‘n nuwe “hekwag” sy plek daar sal inneem. Die publiek sal net moet wag en kyk, wat die geliefde tenk se plek gaan inneem.