Vriende, familie en lede van die gemeenskap het klein Tennique Joubert (6) gister ingewag by die ongelukstoneel op die N8 waar drie leerlinge van die Laerskool Dr. C.F. Visser op Vrydag 24 Januarie oorlede is.
Tennique is ernstig in dié ongeluk beseer en is gistermiddag laat die eerste keer uit die Pelonomi-hospitaal ontslaan. Haar milt, wat weens die slag van die ongeluk gebars het, is in die hospitaal verwyder en sy was ná die operasie sowat twee weke lank in ’n koma.
Haar ma, Tioné Joubert, en pa Brendin Berry, asook haar ouma en oupa Madelein en Cornelius Berry, was saam met haar op die toneel waar sy so seergekry het. Sy is daar met blomme, speelgoed en ballonne ingewag.
Aan pale by die kruising is blomkranse vasgesit ter herinnering aan die tragedie wat hom enkele weke gelede hier afgespeel het.
Die broers Ryan (6) en Ayden Smit (8), saam met hul niggie Leané van Papendorp (8), is die oggend op pad skool toe in ’n motorongeluk dood. Leané se ma, Adri Jonck, het bestuur en is ook in die ongeluk beseer, maar kort daarna uit die hospitaal ontslaan.
Tennique gaan nou daagliks na die Busamed-hospitaal geneem word om verdere behandeling te ontvang.
Die bestuurder van die Hilux-bakkie wat teen die motor gebots het, is beseer, maar is ook kort ná die ongeluk uit die hospitaal ontslaan.
Kapt. Loraine Earle, woordvoerder vir die polisie, het Dinsdag gesê niemand is nog aangekla in die saak nie, maar die ondersoek duur voort.