Tennisbaan haar tuisveld

Die Bloemfonteiner Donna le Roux, dogter van die oud-Springbok-rugbyspeler Ollie le Roux, het nog ’n tennistrofee in haar trofeekas gepak nadat sy in die o.16-ouderdomsgroep die junior meesterstoernooi in Kaapstad gewen het.


Die Bloemfonteiner Donna le Roux, dogter van die oud-Springbok-rugbyspeler Ollie le Roux, het nog ’n tennistrofee in haar trofeekas gepak nadat sy in die o.16-ouderdomsgroep die junior meesterstoernooi in Kaapstad gewen het.

Die toernooi is van 13 tot 15 Oktober aangebied.

Slegs agt spelers in elke ouderdomsgroep van oor die land heen is genooi om mee te ding.

In die drie wedstryde wat Donna gespeel het, het sy net twee stelle afgestaan.

Dié jong tennisspeler van die Hoër Meisieskool Oranje, wat ook as die skool se sportster van die jaar aangewys is, beklee nou die boonste o.16-plek in die land.

“My groot droom is vir seker om eendag dalk in ’n Grand Slam te kan speel, dalk oorsee tennis te speel en die wêreld deur te toer met dié sportsoort,” sê sy.

Tennis leer haar dat wanneer jy alleen is, dinge regtig baie moeilik kan raak, en dat ’n mens altyd moet dankbaar wees vir ander op jou pad wat jou help en ondersteun.

Sy het in September een van haar grootste prestasies tot nog toe op die tennisbaan behaal toe sy die enkel- én dubbelspel op die Internasionale Tennisfederasie (ITF) se J100-toernooi gewen het. Sy het toe pas 16 jaar oud geword, maar as vierde gekeurde die o.18-eindstryd in Johannesburg gewen.

Donna is 236ste op die junior wêreldranglys van die ITF, en in Maart vanjaar is sy ook by die Suid-Afrikaanse o.19-span ingesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.