Bogdan Mandic in aksie vir Suid-Afrika se o.18-skoletennisspan in Engeland.

BLOEMFONTEIN – ‘n Tennisspeler van Bloemfontein was pas deel van die Protea-o.20-tennisspan wat die Streek 5-Jeugspele in Namibië gewen het.

Bogdan Mandic, was pas terug in die land ná die Suid-Afrikaanse Jeugspan se toer na Engeland van 27 Junie tot 4 Julie, toe hy op dieselfde dag na Namibië moes reis vir die jeugspele.

Tien lande van oor Afrika heen het aan die spele deelgeneem, met agt spelers (vier meisies en vier seuns) wat in die Protea-span ingesluit is.

In die toernooi wat van 4 tot 13 Julie in Windhoek aangebied is, het Bogdan saam met spanmaat Simphiwe Ngwenya die dubbelspel gewen.

Bogdan, ‘n gr. 11-leerling aan Grey-kollege, sê die telling van 6-4, 6-3 teen die span van Botswana vertel nie regtig die storie van hoe kwaai dié stryd was nie.

Hul oorwinning het die res van die span gehelp om die meeste punte aan te teken en die spele te wen en daarmee ‘n goue medalje vir Suid-Afrika te verwerf.

Hy is ook ingesluit in die span wat op 1 en 2 Augustus aan Showdown 2025 in Pretoria gaan deelneem.

You need to be Logged In to leave a comment.