Terapie met perde kragtig

’n Perd wat beweeg, verskaf sensoriese insette wat veranderlik, ritmies en herhalend is.


’n Perd wat beweeg, verskaf sensoriese insette wat veranderlik, ritmies en herhalend is.

Dit is ’n fantastiese beweging om ’n kind te help om funksionele doelwitte te bereik.

Veronique Kruger, ’n arbeidsterapeut wat verlede jaar haar praktiese diensjaar voltooi het, het op 6 Mei Bloemfontein se eerste hippoterapiesentrum, Big Strides, by Tristone Stables in Kelly’s View geopen.

Nadat Veronique haar graad in arbeidsterapie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) verwerf het, het sy verlede jaar die Equine-assisted therapy association of South Africa (Etasa) se kursus om perde in terapiesessies te gebruik, voltooi.

Sy verduidelik perde kan ook deur fisioterapeute en spraakterapeute gebruik word om terapie aan te vul en spesifieke uitkomste te bereik.

Veronique sê sy het al van kleins af ’n belangstelling in en liefde vir perde.

“Ek is mal oor perde en was so bly om te hoor van ’n manier waarop ek perde in my terapeutiese sessies kon betrek.”

Sy verduidelik die manier waarop ’n perd loop, boots ’n mens se beweging na.

“Wanneer ’n kind op ’n perd sit en die perd gee een tree, moet die kind sy balans agt keer aanpas. ’n Perd gee tydens ’n 20 minuut-sessie ongeveer 3 000 treë. Die sessie gee dus 3 000 geleenthede om nuwe motoriese breinbane te vorm.”

Veronique sê hippoterapie kan gebruik word vir kinders van die ouderdom van twee jaar en ouer wat, byvoorbeeld, ’n diagnose het van outisme, serebrale verlamming of genetiese sindrome; leer-uitdagings, swak postuurbeheer of aandaggebrek-hiperaktiwiteit­sindroom (AGHS); asook traumatiese breinbeserings.

Sy verduidelik dat die terapiesessie plaasvind terwyl ’n kind op die perd se rug is, en dat die kind verskillende bewegings moet uitvoer of speletjies moet speel terwyl die perd beweeg.

“Om dit reg te kry, moet ’n mens die regte perde gebruik. Benewens die kind op die perd, beweeg ek saam met die perd, sowel as een van die ouers en die perdehanteerder. Die perd moet die omstandighede van die sessies dus gewoond raak.”

Veronique gebruik nou Annemarie du Plessis van Tristone Stables se perde Po, Stella en Pippie vir die hippo­terapiesessies.

Sy sê die positiewe invloed van hippoterapie kan tot so lank soos ’n week ná die sessie hou.

Veronique wil in die toekoms werk om borgskappe te kry sodat sy ook kinders wie se ouers nie die vermoë het om vir sulke sessies te betaal nie, hulp kan gee.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.