Enigeen wat ’n winter in Bloemfontein deurleef het, weet hoe brutaal die seisoen op ’n mens se gemoed kan wees. Aangesien ek meer as vyftig van hulle sien kom en gaan het, het ek myself gestaal en planne gemaak om my hande en gedagtes besig te hou deur die slapende, koue seisoen.
Per geluk nooi ’n vriendin my ’n paar maande gelede uit na ’n werksessie van haar hekelgroepie.
My vernuf met die hekelpen is nie waffers nie, maar ek het darem al ’n kopband en handskoen of twee gemaak. As daar iets nuut geleer kan word, sal jy my daar kry.
Met die eerste sessie daag ek vroeg op en koop solank cappuccino by ’n koffiewinkel.
Al die gesigte lyk vreemd. Ek hoor name, maar vergeet hulle gou. Linka is die organiseerder en groepleier. Sy het oorgenoeg geduld vir die agt of nege vroue wat net genoeg weet om skade aan te rig.
“Ek het lanklaas iets so diep geniet. Dit het my siel goed gedoen,” deel ek ná die eerste sessie met ’n kollega. Ek maan my motorfietsry-perdry-hekel-vriendin om my ’n tweede keer saam te nooi.
Intussen het die winter kom laer trek om Bloem. Die grasperke is morsdood geryp. Die bome pronk blaarloos langs die strate.
’n Maand later sit ons weer met wegneemkoffie in die hand in ’n openbare ruimte waar ons die publiek aan hekel bekend stel. Elke vrou bring iets wat sy gemaak het na die werksessie toe.
Daar is weer nuwe gesigte. Kort voor lank maak ons harte oop en deel lief en leed met mekaar. Verbygangers stop en vra uit. Sommige gee kontaknommers en word deel van die groeiende hekelklub se WhatsApp-groep. Hulle is van plan om by die volgende sessie in te skakel.
Saam met die leer van nuwe tegnieke, deel Linka lewenswyshede uit. Algaande word kennisse vriende. Hierdie is nie bloot handwerk nie, nee, dis terapie. Goedkoper behandeling sal jy nêrens elders vind nie.
Maandagoggend spog ek met foto’s van my pikante, pers amigurumi-olifantjie by kollegas.
Hulle is beïndruk.
Ek kry nou daaglikse ’n dosis hekelpatrone en kreatiewe inspirasie op die WhatsApp-groep.
Verlede Saterdag ryg ons krale – die hekelnaalde vir ’n wyle eenkant.
Die nuwe tegnieke vervul ons met kreatiewe inspirasie terwyl ons krale-goggas maak. Ek is verstom om die ywer van vroue te sien, wat soos ek, net die alledaagse uitdagings probeer oorkom. Alle bekommernis is vir ’n uur of twee vergete, die selfoon iewers diep gebêre.
Hier sit ons skouer aan skouer en werskaf en lag. Ek wonder of ek sonder hierdie maandelikse energie-sopie sal kan klaarkom. Maar hoekom sou ek wou? In stede daarvan sal ek eerder meer mense aanspoor om by hierdie of soortgelyke groepe aan te sluit.
Iewers waar jy kan ontspan, nuwe vriende maak en waar jy jý kan wees.