Daar gaan môre nóg ’n held saam met Handré Pollard en sy Bokspan op die veld draf as hulle die Rooi Drake van Wallis op die Toyota-stadion in Bloemfontein pak.
Tiaan de Klerk (12) ’n gr. 4-leerling aan die Laerskool Fichardpark wat verlede jaar met skildklierkanker gediagnoseer is, gaan saam met die Springbokspan op die veld draf en daarna saam met hulle Nkosi Sikelel’ iAfrika sing.
“Ek het die woorde mooi geoefen,” sê Tiaan oor dié groot gebeurtenis.
Tiaan is begin verlede jaar met skildklierkanker gediagnoseer, ’n soort kanker wat skaars onder kinders van sy ouderdom is.
Sy ma, Wendy, sê Tiaan was regtig baie dapper en het nie gekla ná die operasies nie.
In Julie verlede jaar is limfkliere in sy keel en sy skildlier in ’n sewe uur lange operasie verwyder. Daarna moes hy radioterapie-pille neem. Sedertdien moet hy elke drie maande vir opvolgbesoeke gaan.
“Maar dit gaan nou goed met Tiaan,” sê sy ma.
Tiaan sê hy is “baie opgewonde” om die Springbokke te ontmoet en saam met hulle op die veld te gaan.
Organiseerders van die Springbokrugbyspan het Reach for a Dream gekontak om kinders te identifiseer om saam met die Bokke tydens die toer van Wallis in Pretoria, Bloemfontein en Kaapstad op die veld te gaan.
“Ons het vir Tiaan gekies vir die wedstryd in Bloemfontein,” sê Kerry Donkin, streeksbestuurder van Reach for a Dream in die Vrystaat, Noord-Kaap en KwaZulu-Natal. “Hy was verlede jaar een van die kinders wat deur Reach for a Dream met ’n ‘droom’ bederf is,” sê Kerry.
“Ons het vir Tiaan gekies vir die wedstryd in Bloemfontein,” sê Kerry Donkin, streeksbestuurder van Reach for a Dream in die Vrystaat, Noord-Kaap en KwaZulu-Natal. “Hy was verlede jaar een van die kinders wat deur Reach for a Dream met ’n ‘droom’ bederf is,” sê Kerry.
Hy het toe ’n Play Station 5 gekry wat hy tot vandag nog sommer baie geniet.
Tiaan sê sy gunsteling-rugbyspeler is Siya Kolisi.
Saam met Tiaan gaan Wendy, sy sussie Dané (14) en die kinders se oupa Richard Taylor die wedstryd bywoon.
“My oupa gaan so hard skreeu, dat die hele stadion hom sal hoor,” sê Tiaan oor sy oupa wat sommer baie uitsien ná dié bederf-uitstappie van die viertal.