VrystaatKroon

Tiener van Kroonstad laat die monde water met sy tuisgebakte suurdeegbrode

Ubert de Vries bak brood vir ‘n plaaslike koffiewinkel op die dorp. Foto: Verskaf
Ubert de Vries bak nie net vir kliënte brood nie, maar ook vir ‘n plaaslike koffiewinkel op die dorp. FOTO: Verskaf

‘n Tienerseun van Kroonstad met vele talente waarvan bak uitstaan, se gesogte tuisgebakte brood is hoog in aanvraag. 

Die 15-jarige Ubert de Vries, ‘n gr. 9-leerling wat tuisonderrig ontvang, het in gr. 8 sy liefde vir broodbak ontdek.

“Ek is baie lief vir kos maak en het saam met my ma begin brood bak. Dit is waar die gogga my gebyt het. Die gevoel van die deeg in my hande en die reuk van vars gebakte brood in die oggend is onbeskryflik,” sê Ubert.

Ubert de Vries (15) van Kroonstad is besig om naam te maak met sy verskeidenheid van suurdeegbrode wat hy bak en verkoop. FOTO: Verskaf

Die jong bakker se nuuskierigheid oor hoe om verskillende brode te bak is begin deur sy ma, Barbara de Vries, wat self graag in die kombuis eksprimenteer. Daarmee saam het hy deur middel van YouTube-video’s sy kennis oor die verskilledende maniere van suurdeegbrood bak, uitgebrei.

Hy bak ‘n verskeidenheid van suurdeegbrode wat onder meer saad- en rogbrood, asook ciabata insluit. Om suurdeegborde te bak is ‘n kuns wat bemeester moet word en Ubert het die vinnig bemeester.  Hy sê dit is ‘n 24-uur lange proses wat baie geduld en goeie tydsberekening verg om die perfekte suurdeegbrood te bak.

Hy gebruik verskillende tegnieke om die brode te bak en voeg by dat tegniek en temperatuur ‘n baie groot rol speel. 

“Die belangrikste is die suurdeeg wat gereeld gevoer en lewendig gehou moet anders sal dit tot niet gaan.” 

Die jong bakker se gesogte brode het vinnig opslae gemaak en hy het reeds bestaande kliënte wat gereeld bestellings plaas. 

“Ek meng die deeg in die middag en bak dan die brood vroeg die volgende oggend.” 

Hy bak ook brood vir die Sinkstoor-koffiewinkel op die dorp.

Ná hy matriek beoog hy om aan die Institute of Culinary Arts (ICA) sjefskool te studeer en wil hoofsaaklik in kos-illustrasies en produkontwikkeling wil spesialiseer. “Ek hoop om as jong entrepreneur al die fassette van die kosbedryf ten volle te bemeester.” 

Hy is ook ‘n kranige klavier- en kitaarspeler en sal ook ‘n beroep in die musiekbedryf oorweeg.

Hy geniet ook boogskiet, fietsry, muurbal en calisthenics. Hy is die oudste seun van Abrie en Barbara de Vries van Kroonstad. Hulle is ook sy grootste ondersteuners en moedig hom aan om sy passie uit te leef. Wanneer die bestellings te veel raak, help Barbara en kleinboet Regardt (13) om Ubert te bak. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article