Een van Bloemfontein se oudste kleuterskole het Maandag (24/07) sy 50ste bestaansjaar gevier.
Selfs ouers wat die oggend hul kleuters by die Tinktinkieland- Preprimêre Skool in Heuwelsig afgelaai het, het ’n kolwyntjie ontvang. Kinders het in vrolike uitrustings opgedaag en het heeldag feesgevier.
Jomy Lombaard, nuwe skoolhoof, sê Tinktinkieland is destyds deur die Oranje Vrouevereniging, vandag Vrystaat-Versorging in Aksie, op die Tempe-weermagbasis begin om ’n wieg, bewaar- en kleuterskool vir weermaglede te bied.
Danksy Tertia Flemming, voorsitter van die Bloemfontein-tak van die VVA, en ene brig. Campbell is Tinktinkieland op 24 September 1973 in een van die sink-en-houthuisies op Tempe ingerig. Die naam Tinktinkieland is afkomstig van Flemming se man, ds. H.C.J. Flemming, se opmerking dat die kleuters wat so baljaar klink soos “tinktinkies in ’n bos”.
Die bestuur van die skool is in 1993 oorgeneem deur ’n beheerliggaam wat deur die ouers verkies is, met twee verteenwoordigers van die VVA. Tinktinkieland het in 2019 uit Tempe na sy perseel by die NG kerk Heuwelsig verskuif, waar dit vandag steeds ’n tuiste vir kleuters bied.


