Met die voorval van die seun van Soweto wat op 12 Junie in ’n mangat geval het en nie opgespoor kon word nie, is dit kommerwekkend hoeveel mangate in Bloemfontein oop staan.
Dit nadat die ysterdeksels daarvan verwyder is en waarskynlik vir skrootmetaal verkoop word.
Die vraag ontstaan hoe skrootmetaalhandelaars sulke mangatdeksels koop, omdat die doel daarvan duidelik sigbaar is.
Werner Pretorius, DA-raadslid van wyk 20, sê die diefstal van mangatdeksels neem die laaste twee maande in Dan Pienaar en Heuwelsig drasties toe.
“Die gate hou ’n groot gevaar in vir veral minderjarige kinders en drawwers in die omgewing,” sê Pretorius.
“Inwoners moet asseblief diefstal en skade aan munisipale infrastruktuur by die polisie sowel as die metro se wetstoepassingseenheid aanmeld.”
Van die plekke waar mangate oop staan, is op die hoek van David Botha- en Ogilvie Thompson-straat naby die Heuwelsig Spar, in Nelson Mandelarylaan en in Van der Rietstraat in Brandwag.
In Dan Pienaar-rylaan is drie mangate wat oop staan en groot gevaar skep.
Inwoners moet dit dadelik aanmeld indien hulle verdagte persone opmerk wat moontlik infrastruktuur beskadig of steel deur die wetstoepassingseenheid by 051-405-8771 en die Bayswater-polisie by 051-406-2602/5 te bel.