Ná bykans ses jaar van beplanning, droom en soeke na finansiering het die Carel du Toit-sentrum in Bloemfontein, ’n skool vir leerlinge met gehoorgestremdheid, Vrydag (11/03) sy eie oudiologie-toetskamer geopen.
Dié toetskamer, een van net drie staatsgeriewe in die stad, sal die sentrum se ontwikkelingsproses vergemaklik en dit toeganklik maak vir leerlinge en lede van die publiek wat gehoortoetse moet ondergaan.
Carin Taute, sentrumhoof, sê hoewel die projek ’n moeilike een was om aan te pak, kan hulle nou hul werk makliker doen en kinders met gehoorgestremdhede toerus om ’n normale lewe te leef.
Die Witherow-trust het die toetskamer finansier.
Andani Madzivhandila, ’n heeltydse oudioloog, is by die skool aangestel om met die gehoortoetse en ontwikkeling te help.
Volgens Taute was dit voorheen ’n uitdaging om die leerlinge gereeld by toetssentrums te kry sodat hul gehoorontwikkeling nagegaan kan word.
“Daar is net twee ander toetssentrums tot ons beskikking in Bloemfontein. Die een is in die Universitas-hospitaal en die ander in die Pelonomi-hospitaal.”
Albei is staatshospitale, wat daagliks met pasiënte oorlaai is.
Die gehoortoetskamer spog met splinternuwe tegnologie wat vinnig en doeltreffend tot die leerlinge se beskikking is.