Terwyl die temperature in Bloemfontein vandag (12/01) en gister digby ’n maksimum van 35 °C gedraai het, was daar ure lank kragonderbrekings in die noorde van die stad weens herstelwerk aan ’n kragverspreider.
Lele Mmatu, woordvoerder van Centlec, sê die krag aan die Harvard-verspreidingsentrum is vanmiddag herstel.
Dit kom nadat werknemers van Centlec eers bome agter Foodlovers’ Market in Langenhovenpark moes snoei wat aan oorhoofse kragkabels geraak het en die kragonderbrekings veroorsaak het.
Woensdag (11/01) was die krag in groot dele van die noorde van die stad van 13:00 tot omstreeks 19:30 af.
Vandag om 11:30 het die Harvard-verspreidingsentrum weer uitgeskop en die kragtoevoer is eers kort voor 15:00 in een gebied ná die ander herstel.
Dit kom te midde van fase 6-beurtkrag wat sedert Woensdag weer ingestel is.
Inwoners is nou bekommerd dat hulle vanaand weer ure sonder krag gaan wees indien beurtkrag voortgaan soos beplan.