Toneel skitter met pryse

Die toneelstuk Ons wag vir Godot was die afgelope naweek die groot wenner van die Vryskitter-pryse op die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein.


Die toneelstuk Ons wag vir Godot was die afgelope naweek die groot wenner van die Vryskitter-pryse op die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein.

Dié stuk, die eerste Afrikaanse vertaling van die Ierse dramaturg Samuel Beckett se gevierde toneelstuk Waiting for Godot, is op Saterdag 7 Julie onder meer as die beste produksie op die fees aangewys.

Dit is ’n debuutproduksie met regie deur Dion van Niekerk, wat as die beste regisseur aangewys is.

Prof. Naòmi Morgan, hoof van die Frans-afdeling van die Departement Afrikaans, Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), het dit in Afrikaans vertaal. Die teks is deur Naledi in boekvorm uitgegee.

Kaz McFadden is as die beste­ speler op die fees aan­gewys vir sy rol in Stuur groete vir die Moot, ’n teks deur Lara Lourens wat boonop McFadden se eerste vertolking in ’n solostuk op ’n fees is.

Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV, het ’n Vryskitter-prys ontvang vir sy bydrae as feesvennoot en vriend van die Vrystaat Kunstefees­.

Die eerbewys gee erkenning aan sy strategiese ondersteuning van die fees en sy belegging in mense, gemeenskappe en die kunste.

Die wenners is soos volg:

  • beste produksie: Ons wag vir Godot;
  • beste regisseur: Dion van Niekerk (Ons wag vir Godot­);
  • beste hoofspeler: Kaz McFadden (Stuur groete vir die Moot);
  • beste ondersteunende speler: Pieter Taljaard (Ons wag vir Godot);
  • beste artistieke ontwerp: With-Out Limits (AV en beligtingsontwerp);
  • beste visuele kunsaanbieding: UJ-kunsgalery, MTN SA Foundation – Re/connect/ing;
  • beste ontluikende kunstenaar: Angelique Filter (vertolking);
  • beste gemeenskapsbetrekking: Khanya and Her Golden Dream;
  • beste tegnikus: Nathan Janse van Rensburg;
  • beste literatuurfeesverkoper: Ons wag vir Godot (Naòmi Morgan);
  • beste bemarking: Khanya and Her Golden Dream;
  • beste ensemble: Ons wag vir Godot; en
  • Cobus Rossouw-prys vir beste ontluikende Vrystaatse kuns­tenaar: Anke Meyer-Auld.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.