Tonge sal klap en vingers sal klik oor kunswerke

Die publiek kan nou stem vir hul gunsteling-kunswerk in die New Breed-kunskompetisie wat Dinsdag (04/10) by die Oliewenhuis-kunsmuseum geopen het.


Die publiek kan nou stem vir hul gunsteling-kunswerk in die New Breed-kunskompetisie wat Dinsdag (04/10) by die Oliewenhuis-kunsmuseum geopen het.

Daar is 27 kunswerke deur 24 kunstenaars op uitstalling.

Dit is vanjaar die sesde keer dat dié kompetisie – deur die prokureursfirma Phatshoane Henney, in samewerking met Oliewenhuis, die Kunsbank van Suid-Afrika en Vrystaat-kunskollektief – aangebied word.

Ontluikende kunstenaars kry die geleentheid om hoëgehalte-kunswerke in te skryf vir dié kompetisie, waarin prysgeld van R100 000 op die spel is.

In aanloop tot die kompetisie is aanlyn kunsleierskap-seminare aangebied, waarin gesels is met topkunstenaars. Plaaslike kunstenaar Bontle Tau het ’n onderhoud gevoer met kontemporêre kunstenaar Cow Mash, Miró van der Vloed het gesels met Kaapstadse beeldhouer Ben Orkin, en Lyrene Kühn-Botma het op haar beurt met litograaf Leshoka Joe Legate gesels.

Die laaste deel van die reeks webinare vind op Donderdag 27 Oktober plaas wanneer vorige meriete-eerbewyswenner Andre Rose met internasionaal bekende kunstenaar Tracey Rose gesels.

Lesley Mokora, uitvoerende hoof van Phatshoane Henney, sê die kunswerke wat as finaliste uit die inskrywings gekies is, beslaan ’n wye verskeidenheid temas, materiale en perspektiewe.

“Elke kunswerk getuig daarvan dat kuns nie is wat jy sien nie, dit is wat jy ander laat sien,” sê Mokora in ’n nuusverklaring oor die openingsgeselligheid.

Die publiek word genooi om newbreedart.co.za te besoek en vir hul gunsteling-kunswerk te stem. Die kunstenaar wie se kunswerk die publiek se keuse is, sal prysgeld van R10 000 ontvang. Stemme vir dié deel van die kompetisie sluit op 31 Oktober.

Die wenners van die New Breed-kunskompetisie sal op 3 November aangewys word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.