Topgehalte wildsgeregte en wyne by die WildsKOSfees buite Bloemfontein

,

Die WildsKOSfees by De Oude Kraal op 7 Junie sal groter wees met gourmet-geregte van organiese wildsvleis en wyn van prominente landgoedere. Besoekers kan 22 wynstalletjies en 24 kosstalletjies verwag, met ‘n BBP-middagete. Aktiwiteite sluit golfwenke en skiet in. Kaartjies is beskikbaar op die De Oude Kraal webwerf.

Wildskosfees

Vanjaar se WildsKOSfees by De Oude Kraal op 7 Junie gaan nog groter en beter wees.

Dié eg Vrystaatse fees buite Bloemfontein wat oor die jare gegroei het en gaste van oor die land heen en selfs die buiteland trek, het vele fasette, idees, resepte en aktiwiteite wat oor die jare verander en verbeter word.

Die gourmet-geregte wat Marie Lombard, sjef en stigterslid van die WildsKOSfees voorsit, is van uitstekende gehalte en bevestig die veelsydigheid van organiese wildsvleis wat so eie aan Suid-Afrika is.

Vanjaar se WildsKOSfees is om die draai. Dit word vanjaar weer in samewerking met BloemNuus aangebied. Van links is Marie Lombard (sjef en stigterslid van De Oude Kraal se WildsKOSfees), Jeannine van Zyl (algemene bestuurder van Novus Media Gemeenskapsnuus in die Vrystaat en Noord-Kaap, waaronder BloemNuus val) en Gerhard Lombard (De Oude Kraal). Foto: Lientjie Mentz Credit: Lientjei Mentz

Vanjaar spog De Oude Kraal weer met van die beste wynplase in die Wes- en Suid Kaap wat hul eie stalletjies kom beman en hulle wyn kom bemark.

Wynliefhebbers kan proe aan wyne van bekende landgoedere soos Anthonij Rupert, Babylonstoren,Beyerskloof, Capensis, Cederberg, Diemersfontein, De Krans, Diemersdal, Glen Carlou, Jakkalsvlei, Kranskop, Kleine Zalze, Meerhof, Neil Ellis, Paul Clüver, Raka, Rickety Bridge, Sanniesrust, Warwick, Spier en Thelema.

By elke wynstalletjie sal bykos bedien word wat ‘n volledige smaakervaring gaan bied. Die feesgangers kan uitsien na die beste wildgeregte wat die Vrystaat bied.

Gerhard Lombard van De Oude Kraal sê hierdie plase van verskillende wynstreke, maak dit ‘n ongelooflike verskeidenheid van smake en keuses wat eie is aan De Oude Kraal se WildsKOSfees.

“Hierdie wynervaring beloof om feesgangers se wynkennis en smaak te verryk,” sê Gerhard.

“Die fees se uitleg is so dat besoekers maklik tussen stalletjies kan beweeg om verskillende wyne en wildsgeregte te proe. Elke wynstalletjie sal gepaard gaan met ‘n gepaste wildsgereg of bykos, wat ‘n heerlike kulinêre avontuur verseker.

“Ons sien uit daarna om feesgangers te bederf met die beste kos- en wynkombinasies van die streek.

Feesgangers kan uitsien na 22 wynstalletjies en 24 kosstalletjies elk met vyf tot ses geregte.

Daar sal vanjaar ‘n eksklusiewe BBP-middagete met bypassende wyn bedien word vir gaste wat graag die volle ervaring van Marie se kulinêre vernuf wil proe.

Sy en Melanie Moolman, bestuurder van De Oude Kraal en ervare wynproespanne werk ‘n spyskaart met wildsgeregte uit wat perfek saam met uitgesoekte wyn gaan.

Wat regtig besonders aan die fees is, is die meer as 200 vrywilligers wat hard werk om al die kos voor te berei en te bedien.

Gerhard sê hul passie vir die fees en hul gemeenskap maak elke jaar van die WildsKOSfees ‘n sukses.

“Ons waardeer elkeen se bydra opreg en kan nie wag om julle te verwelkom vir nog ‘n fantastiese feesdag nie.”

‘n Bykomende diens wat vanjaar aan feesgangers gebied word, is ‘n busvervoeropsie na en van De Oude Kraal op die dag van die fees.

Daar sal weer talle aktiwiteite wees waaraan besoekers kan deelneem. Hendrik Buhrmann gaan gholfwenke gee, gaste sal kan skiet met ‘n .22-geweer asook kleiduifskiet, perdry of ‘n rit op die trekker en wa.

Waaghalse kan deelneem aan die gewilde koedoe-spoeg-kompetisie.

Die WildsKOSfees bied ‘n ervaring wat die sintuie prikkel met ‘n kombinasie van heerlike kos, uitstekende wyn, en vermaak vir die hele gesin.

Kaartjies kos R595 en die BBP-middagetekaarjties kos R1500 is nou reeds op De Oude Kraal se webwerf beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.