Die 16-jarige Donna le Roux het Vrydag haar grootste prestasie tot nog toe op die tennisbaan behaal toe sy die Internasionale Tennisfederasie (IFT) se J100-toernooi in Johannesburg se meisies-afdeling gewen het.
Le Roux, wat vierde gekeur is, het in haar opmars na die eindstryd van die enkelspel eerste te staan gekom teen Roxy Bredenkamp van die Wes-Kaap.
Bredenkamp is vroeër vanjaar as die beste algemene speler van die CR van der Merwe-tennistoernooi aangewys.
In haar volgende wedstryd het sy te staan gekom teen Daniel Hefner van Israel, wat sy met 6-1, 4-6, 6-4 geklop het.
In die volgende ronde het Le Roux vir Jahnie van Zyl met 6-2, 6-2 geklop.
In die halfeindstryd het sy die Brit Sophie Bekker met 6-4, 7-5 geklop voordat sy deurgedring het na die eindstryd.
Hier het sy die derde gekeurde Allegra Korpanec Davies van Brittanje met 6-3, 6-2 geklop, en daarmee het Le Roux die enkelspeltitel gewen.
In die dubbelspel het Le Roux en Morgan Jordaan die Suid-Afrikaanse dubbelspelpaar van Abigayel Vosloo en Abigail Wheeler met 5-2, 6-1 geklop.
Die twee het daarna teen Ariel Avidan en Daniel Hefner van Israel te staan gekom en hulle met 6-4, 2-6 en 10-6 geklop.
In die eindstryd het die tweede gekeurde span te staan gekom teen die vierde gekeurde Suid-Afrikaanse span van Che Nel en Allegra van der Walt wat Le Roux en Jordaan maklik met 6-2 en 6-0 geklop het.