Daar wag weer groot opwinding in Bloemfontein wanneer die Hoër Meisieskool Oranje die Fairtree Super 12-toernooi van Donderdag (10/08) af aanbied.
Oranje se eerste span en die span van Eunice High School het verlede jaar in ’n spannende eindstryd teen mekaar gespeel met Oranje wat geseëvier het.
Die verdedigende kampioen gaan vanjaar weer te staan kom teen Eunice, sowel as skole soos Rhenish Girls’ High en St Mary’s Waverley.
Eunice het vroeër vanjaar die St Mary’s-toenooi gewen.
Op die nasionale All Girl’s Festival wat kort daarna aangebied is, het Oranje weer vir Rhenish gewen.
Oranje se eerste span het almal behalwe een van die sewe jaar waarop die Super 12-toernooi aangebied is, gewen.
Die land se 12 tophokkiespanne soos volgens die ranglys op 31 Mei, ding vandeesweek in Bloemfontein mee.
Volgens dié lys is Oranje eerste, Rhenish tweede en Eunice derde.
Oranje het die toernooi in 2014,’15,’16, en 2017 gewen en in 2018 het die Hoërskool Menlopark die kroon gedra.
Oranje het in 2019 gewen en in 2020 en 2021 is geen toernooi weens die pandemie aangebied nie, maar verlede jaar was Oranje weer tops.
Die wedstryde begin Donderdag om 07:30 en die finaal word Saterdag om 16:10 beslis.