Drie raadslede van Torings van Hoop se termyn het op die jaarvergadering op 9 Junie ten einde geloop.
Die voorsitter, Danie Wepener, Deon Rossouw en prof. Tuwani Rasengane tree almal uit omdat hulle die maksimum aantal jare in die raad gedien het.
Wepener het gesê uitdagings in stede soos Bloemfontein en oor die wêreld heen vereis kreatiewe ingrypings.
“As niewinsgewende organisasie werk Torings van Hoop nou saam met verskeie private ondernemings en openbare organisasies, kerke en individue.”
Een van die suksesverhale van Torings van Hoop is die Proud Clean Bloemfontein-projek, waardeur spanne werklose mense teen vergoeding ondernemings se terreine skoonmaak, of met geld wat borge gee ander terreine skoonmaak. So leer hulle lewensvaardighede om hulle vir die formele arbeidsmark voor te berei.
Ds. De le Harpe le Roux, algemene bestuurder van Torings van Hoop, sê God het dié organisasie geseën om ’n seën vir ander te wees.
In 2020 en 2021 het Torings verskeie organisasies in die stad gehelp met kospakkies wat dan verder aan hulpbehoewendes versprei is.
Nuwe projekte is die afgelope jaar begin, soos met die geriewe vir mans sodat hulle een maal ’n week ’n warm stort in ’n stortwa by die Tweetoringkerk kan kry.
Bybelstudiegroepe vir hawelose mans, en een vir vroue wat in prostitusie en armoede vasgevang is, is ook begin.
Nog hoogtepunte is die Tweetoringkerk wat geverf is, ’n nuwe webwerf wat bekend gestel is en die Kestell-saal in Alexandriastraat wat vir Torings-projekte beskikbaar gestel is.
Op die vergadering is een van die raadslede, Fred Babu, met die Delia Jaftha-eerbewys vereer vir die werk wat hy vir Torings van Hoop doen.