David Mc Kay op die plek waar die pype verwyder is nadat die betrokke subkontrakteur drie maande lank nie betaal is nie.Foto: Verskaf


Die Towers-winkelsentrum in Langenhovenpark het weer water nadat ’n subkontrakteur Maandag pype wat in Oktober gelê is verwyder het weens betaling wat uitstaande was.

Johan Coetzer, eienaar van Chando Civils, sê sy onderneming is deur die kontrakteur, Leafy Space, versoek om die pype te maak en aan te bring. Die werk, naby die winkelsentrum, is op 25 Oktober afgehandel.

Ná talle oproepe en e-posse aan Leafy Space het Coetzer op 10 Januarie gewaarsku dat indien Chando Civils nie teen Vrydag 13 Januarie die volle betaling ontvang nie, die pype verwyder sou word.

Toe geen betaling teen Vrydag ontvang is nie, is die pype Maandag verwyder, wat daartoe gelei het dat die sentrum sedert die middag nie water gehad het nie.

‘n Woordvoerder vir Leafy Space sê die Mangaung-metro het hulle eers in Desember betaal toe almal al op verlof was, en hulle het die betaling gedoen toe mense weer op kantoor was.

Coetzer sê hulle is jammer dat mense onder die tekort aan water moes ly.

“Ons het die werk reeds Oktober afgehandel en het geen betaling ontvang nie,” het Coetzer gesê.

Chando Civils het Dinsdag die volle bedrag van R116 000 ontvang en het die pype aan die kontrakteur beskikbaar gestel.

“Ons het aan Leafy Space ’n kwotasie gegee om weer die pype aan te bring, maar hulle het besluit om dit self te doen.”

Die operasionele bestuurder van die Towers-winkelsentrum, GJ van der Westhuizen, sê die sentrum het die hele tyd oop gebly en planne gemaak om water te kry.

Hy het Donderdag vroeg laat weet dat die sentrum weer water het.

David Mc Kay, DA-raadslid, sê dit is onaanvaarbaar dat kontrakteurs so laat betaal word. Hy sê hy was met Timothy Sediti, waarnemende finansiële hoof van die Mangaung-metro, in verbinding. Sediti het gesê Leafy Space is in November betaal.

You need to be Logged In to leave a comment.