Robin Hilton en dr. André Loubser by een van die mediese produkte by die simposium.

BLOEMFONTEIN – Om Wêreldtraumadag te vier, bied die Bloemfontein Traumaforum (BTF) ‘n tweedag-simposium aan waar medici en mediese personeel wat met trauma-gevalle werk, kan skouers skuur en opleiding ontvang.

‘n Lang lys kundige sprekers van oor die land heen asook kundiges uit Bloemfontein en selfs ‘n spreker uit Hongarye, het die tweedag-simposium wat vanjaar die tweede keer deur die BFT aangebied word, toegespreek.

Dr. André Laubser, traumachirurg en hoof van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se departement trauma, sê die simposium is ‘n wonderlike geleentheid vir almal wat in trauma werk, om meer te leer oor die nuutste tegnieke en toerusting wat beskikbaar is. Dit sluit almal in van teatersusters en noodreddingswerkers tot chirurge, fisioterapeute en arbeidsterapeute.

By die Trauma-simposium is van links Julius Fleischman (spreker), Riaan Meyer, dr. Ilse Fourie en Thinus van Eeden.

“Almal in die mediese veld het ‘n groot behoefte om voortdurend op hoogte te bly met die nuutste kennis,” sê hy. “Trauma is een van die dele van die mediese beroep wat voortdurend ‘n evolusie ondergaan. Opleidingsdae soos hierdie is vir almal baie belangrik.”

Hy sê omdat die staat nie meer opleidingsgeleenthede aanbied nie, is dit wonderlik hoe die privaatsektor ingespring het om ‘n geleentheid soos hierdie moontlik maak.

Robin Hilton (links, Marcus Medical) en dr. André Loubser (trauma-chirurg) by een van die stalletjies. Hilton verduidelik hier hoe die Lucas 3, ‘n outomatiese resussitasie (CPR)-masjien werk.

Dr. Dumani Kula, uitvoerende hoof van die Busamed-groep, het Donderdag 23 Oktober se verrigtinge bygewoon en die simposiumgangers verwelkom. Busamed is saam met Mediclinic die hoofborge van die simposium.

Kula sê omdat Busamed Bram Fischer naby snelweë soos die N8 en N1 is asook naby die Bram Fischer-lughawe, het hulle besluit om ‘n spesiale fokus op trauma te plaas. “Opleidingsessies soos hierdie bou ‘n stelsel waarop Busamed en ander vennote saamwerk om die beste trauma-diens aan die gemeenskap van Bloemfontein te lewer.”

Dr. Dumani Kula, uitvoerende hoof van die Busamed-groep. FOTO’S: Lientjie Mentz

Dr. Ilse Fourie, ‘n Bloemfonteinse dokter met jare se ervaring in trauma en uitvoerende hoof van EliteMed24 en PreMed24, sê sy is passievol oor trauma. “Dit is vir almal belangrik dat medici in die trauma-bedryf saamwerk om in geheel ‘n beter diens vir almal in die staat en privaat te lewer.”

“Almal wat betrokke is in trauma in die stad, is op een groep waar ons met mekaar praat sodat die beste opsies vir elke geval beskikbaar is,” verduidelik Fourie.

Die simposium van 23 tot 24 Oktober by A-Lodge in Bloemfontein, is deur sowat 100 mediese praktisyns van oral oor die stad en selfs Johannesburg bygewoon.

Bykomend daartoe was daar 15 farmaseutiese ondernemings wat trauma-produkte uitgestal het.

You need to be Logged In to leave a comment.