Inwoners het vandag verslae rondgestaan by Van Heerdenstraat 2 in Wilgehof waar die lyke van drie volwassenes vanoggend gevind is.
Die lyke van Christo Theron (36), sy vrou, Janine (35), asook Janine se ma, Betsie Kruger (66), is vanoggend in die huis gevind en die polisie is ingeroep.
Kapt. Lorraine Earle, woordvoerder van die polisie, het intussen bevestig dat drie mense vermoor is. Die polisie stel nou ondersoek in oor wat hier op die perseel, waar Kruger die eienaar van Die Bye Nes-dagsorgsentrum bedryf, gebeur het.
Earl sê benewens die drie wat dood is, was daar nog ’n vrou (91) by die huis, maar sy weet na bewering nie wat gebeur het nie en daar word vermoed dat sy deur die gebeure geslaap het.
Lede van AfriForum het gehelp om nuuskierige mense van die toneel weg te hou sodat die polisie kon voortgaan met die ondersoek.