Troebelheid vereffen met hulp van jou losser

Terwyl die geluide van die klappers wegsterf, kom lê my hond by my voete. Sy sug diep, soos net ’n bedorwe troetelhond kan.


Terwyl die geluide van die klappers wegsterf, kom lê my hond by my voete. Sy sug diep, soos net ’n bedorwe troetelhond kan.

Dan raak sy rustig.

Die Nuwejaarsgeraas het haar nog nooit bang gemaak nie. Sy word wel deur die feesvieringe opgesweep en wil graag deelneem.

Ek sug en lê na die dak en staar. Die nuwe jaar het begin, maar ek is nie gereed daarvoor nie.

Toe ek ’n paar dae later die storie van Rut en Boas uit die pen van Francine Rivers lees, sien ek dieselfde tema wat herhaal word. Rut gaan lê laataand by Boas se voete. Sy en haar skoonma, Naomi, het ’n losser nodig. Iemand wat hulle sal versorg en beskerm.

Hierdie nederige gebaar raak Boas se hart aan. Hy maak dadelik reëlings vir die nodige onderhandelinge by Bethlehem se stadspoort. Sodoende verkry hy die familiegrond en Rut as bruid.

Ek begin vroeg in die nuwe jaar weer werk. Maar 2022 wil nie sy wyk kry nie. Oujaar se probleme kom karring aan my siel. En die “swart hond” sit op my hakskene.

Is ’n mens veronderstel om nuwe hoop en krag te hê wanneer ’n nuwe jaar begin? Ek het ’n tekort aan albei. Hoe gaan ek die uitdagings van 2023 met ’n loodswaar gemoed aanpak?

Ek ontvang ’n blogplasing van Amy Carroll per e-pos. Ek lees hoe sy die aanvang van 2021 ervaar het. Terwyl vriende en familie opgewonde voornemens vir die komende jaar maak, voel sy gedreineer en onseker.

Carroll rakel die verhaal van koningin Ester op. Dié pragtige jong meisie het in ’n stadium manne-moed gekort. Sy moes die koning – haar man – vra om die Jode se lewe te spaar. Maar dit was onvanpas vir daardie tyd. Die koning kon haar daarvoor laat teregstel.

Hierdie beeldskone en intelligente vrou het ’n verlede gehad, want – as jy mooi onthou – sy was ’n weeskind. Sy het by haar oom Mordegai grootgeword. Ten spyte hiervan het die koning haar raakgesien en uit tientalle gekies om sy vrou te wees.

Ek kan my met koningin Ester se angstigheid vereenselwig. Die onsekerheid oor haar eie en die Jode se toekoms resoneer met my.

Sy raak doelbewus stil en besluit eerstens om drie dae lank te vas, terwyl sy biddend wag en luister wat God vir haar en sy volk beplan. Tweedens vra sy haar oom Mordegai om soveel van die Jode as moontlik bymekaar te kry. Hulle moes saam met haar vas en bid.

Ek besluit om koningin Ester se voorbeeld te volg: Drie dae lank te vas en rustig te raak. Net te luister. Want God se Gees praat saggies. Dan maak ek soos Rut: krul in ’n bondel by God se voete op, want ek het ’n Losser nodig.

My toekoms, soos die res van Suid-Afrika s’n, is onseker. ’n Paar betroubare vriende bid saam. In hierdie plek van algehele afhanklikheid van God en hulp van ander vertoef ek nou, totdat die deurbraak kom.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.