Troue sagmoedigheid hou Hans uit die onheil se kake

Dit was die dag van die groot bosduif-beraad, onthou Hester.


Dit was die dag van die groot bosduif-beraad, onthou Hester.

Oranje-geel herfsbome het Bloemfontein se strate ingekleur.

Hans en die hadida-brigade het reeds vroegdag die westelike buurte gepatrolleer.

Hester het afkeurend na die spul boendoe-bosduiwe op die woonstelgebou se dak gekyk. Die oggendson het haar pers-groen en steenkool vere verwarm.

As vrou van brigadier-generaal Hans, of Big Chief soos die magslede hom noem, moes sy orde handhaaf terwyl die brigade elders besig was. Hester, of Ouma Hessie soos die meeste haar ken, het jare gelede saam met Hans van ’n plaas buite Makwassie na Bloemfontein verskuif. Die stadslewe was nie vir haar lekker nie, maar sy het daarmee vrede gemaak.

Vroeër, toe die kinders nog in die nes was, het hulle tweejaarliks by die familie in Makwassie gaan kuier. Deesdae is Hans so besig met sy ampsake dat hy geen tyd het vir die “alledaagse besigheid van die gepeupel nie”, soos hy dit stel.

Sy verlang na die dae dat hulle rustig in die hoogste boom van die hoogste koppie kon sit en staar oor die dorp. Hulle sou oor die toekoms bespiegel.

Bloemfontein het stad geword, bedrywig soos ’n miernes, en die mense indringerig. Dis nie die plek van jare gelede nie.

“Ouma Hessie!” Die stem is uitasem. Benoud.

“Da’s moeilikheid!” Talana die tiptol staan met hangvlerke voor haar. “Maj. Lusius het gesê ek moet jou kom haal.”

Sy beduie met haar linkervlerk suidwaarts.

“Kom dadelik. Dis by die brug. Die plek met die groot wiel wat draai en draai.”

Sy skep asem, “hulle het hom . . .”

Haar woorde verdwyn in die oggendlug, want sy vlieg reeds in die rigting van die skouterrein.

Hester sal daardie dag nooit vergeet nie. Sy het al gesien hoe die brigade ’n erewag vorm. Almal in gelid ter herinnering aan Big Chief Hans.

Toe sy en Talana by die skouperde se stalle aankom, het Lusius se kop laag gehang. Die ander was stil; gestaan en rondskrop. Sy onthou die koue gevoel toe Lusius vertel van die onderonsie met die bosduiwe wat handuit geruk het. Hans wou die duiwe laat verstaan wie is baas van die Bainsvlei-plaas.

Niemand het die kat gewaar totdat dit te laat was nie.

Sheridan, die leier van die bosduiwe, het dit nie oorleef nie. Hans se regtervlerk het uit die skouergewrig gekom.

As dit nie vir die mensvrou was nie. Hester wil nie daaraan dink nie.

Die vrou het die kat verjaag en vir Hans opgetel. Hy het geprotesteer toe die mense wat diere help, hom wegvat.

’n Week later was sy vlerk beter en is hy vrygelaat. Die hele reënboog-kolonie was saam met Hester bly dat hy die petalje oorleef het. Hulle het luidrugtig gekras toe hy en Lusius aangevlieg kom.

Al het Bloemfontein sy dorpsvere ontgroei en stads­vlerke gekry, het die mense sagmoedig gebly. En Hester sal nêrens elders wil nesmaak nie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.