Nie net gaan die wenpaar in Bloemnuusse Troufoto van die jaar-kompetisie vir 2021-’22 op dié gemeenskapskoerant se voorblad verskyn nie, daar is vanjaar sommer ’n lekker plesier-prys op die spel.
Jo Anne Viveiros van die Bloemspa-hotel en -konferensiesentrum en Stefan van Biljon van Creative Kilowatt borg ’n naweek (Vrydag en Saterdagaand) vir die wenpaartjie by Bloemspa.
Paartjies wat in Bloemnuusse lesersgebied woon en sedert Augustus verlede jaar getroud is, kan hul mooiste foto vir die kompetisie inskryf.
Al die inskrywings wat ontvang word, sal maandeliks op Bloemnuusse Facebook-blad gepubliseer word. Daar sal ook elke maand ’n wenfoto van die maand aangewys word wat in Bloemnuussal verskyn. As daar ’n mooi storie rondom die paartjie se huwelik was, kan hulle dit gerus ook instuur.
Foto’s wat ingeskryf word, hoef nie deur ’n professionele fotograaf geneem te wees nie – ’n meer informele foto wat deur ’n familielid of vriend geneem is, kan ook gestuur word. Die gehalte moet egter steeds goed wees om vir die kompetisie te kwalifiseer.
Fotograwe kan ook ’n foto inskryf, met die toestemming van die bruidspaar.
Slegs een foto van goeie gehalte in jpeg-formaat kan per bruidspaar ingeskryf word.
Die fotograaf se handtekening mag nie op die foto wees nie, maar by elke inskrywing moet die fotograaf se naam en van, of die foto-ateljee se naam, verskaf word.
Die inskrywing moet die paartjie se name en van, die naam van die stad of dorp waar die troue gehou is en die troudatum bevat.
Paartjies kan hulle inskryf deur die foto en meegaande inligting na bloemnuus@media24.com te stuur. Skryf in die boodskapveld: Troufotokompetisie.
Die kompetisie sluit einde Julie. Sodra al die foto’s ontvang is, sal ’n galery met al die inskrywings op Bloemnuusse Facebook-blad geplaas word.
’n Paneel beoordelaars sal die 12 topfoto’s aanwys. Dié foto’s sal in Bloemnuusgeplaas word. Die wenner sal daarna aangewys word en op Bloemnuusse voorblad verskyn.
- Meer oor die borge: Bloemspa net buite Bloemfontein bied verblyf in 67 kamers. Daar is ook ’n spesiale suite waar die bruid kan aantrek en wat ideaal is vir die bruidspaar op hul eerste aand.
Bloemspa het sewe geriewe waar konferensies aangebied kan word, asook ’n raadskamer en twee bykomende konferensiekamers. Die spa bied ’n verskeidenheid skoonheidsdienste en bied ook pakette aan spesiaal vir paartjies of bruilofsgroepe.
- Creative Kilowatt bied klank, verhooggeriewe en atmosfeerbeligting, asook ander oudio-visuele effekte vir troues, partytjies en korporatiewe gesellighede.
Die span beskik oor ’n omvattende musieklys, van die nuutste treffers tot ou gunstelinge.