“Tuinmaak en heling”, dit was die tema van die Bainsvlei-tuinbouklub se eerste byeenkoms vir 2022.
Die tuinbouklub, onder die voorsitterskap van Trudie Oelschig, het die tuine van die Gratias-aftreeoord in Dan Pienaar, op Woensdag 2 Februarie besoek.
Dié aftreeoord is bekend vir die verskillende soorte tuine wat wissel van fyntuin, waterwys, grasareas, ’n “bergtuin” (wat dassies uithou), inheemse tuine en selfs ’n koivisdam.
Een van die inwoners, Frieda de Bruyn en haar tuinspan hou die pragtuine in stand.
Die span sê dat hulle graag in die tuine werk, want “die plante praat met ons harte”.
Die gasspreker op die geleentheid, Ronél van der Watt, het daarop gewys dat Covid-19 bo-op bestaande trauma nes geskop het.
Daarom is heling in hierdie dae so belangrik, nie net vir lede nie, maar ook hul gesinne, families en die gemeenskappe waarbinne hulle leef.
Vir heling om te kan plaasvind moet aksie gebeur, en een so ’n aksie kan wees om tuin te maak – tuinmaak ondersteun fisiese heling terwyl die plant van byvoorbeeld ’n boom, ’n geleentheid bied vir emosionele heling.
Die geleentheid is deur 45 mense bygewoon en hulle het dit geniet om mekaar weer ná die streng Covid-19-inperkings te sien. Die Bainsvlei-tuinbouklub kom agt tot tien keer per jaar in ’n mooi tuin bymekaar en bespreek dan ’n relevante onderwerp.
Die gaste en die 10 inwoners van die aftreeoord wat die geleentheid bygewoon het, het saamgestem dat die netheid, sagte en kleurvolle voorkoms van die oord se tuine helend is vir die siel.