Hoewel Sassa die hond en Kietsie die kat gisteraand tydelik ’n veilige plekkie gehad het om te slaap, was hul mensvriende haweloos nadat die Mangaung-metropolisie die gebou in die Memorium-begraafplaas waarin hulle onwettig gewoon het, platgestoot het.
Dit het gekom nadat ’n gaslekkasie by die Memorium-krematorium Woensdag die Mangaung-brandweer genoop het om inderhaas paaie af te sper en kundiges te kry om die gaspype te seël.
Dolfie Pietersen (35) en Cindy de Wee (24) is deel van ’n groep mense wat al ’n hele paar jaar in ’n struktuur in die begraafplaas woon.
Hulle is baie ontsteld dat “hul” huis Donderdagoggend platgestoot is.
Die groep mense het verwese tussen hul aardse besittings gesit.
“Ons name is op die munisipaliteit se lys vir behuising,” het De Wee, wat die afgelope drie jaar daar by Pietersen bly, gesê. Sy is van Heidedal, maar bly hier by hom en doen werkies wat oor haar pad kom.
Pietersen kom uit die Wes-Kaap en sê hy bly al die afgelope tien jaar in die begraafplaas.
“Die mense het ons blyplek kom platstoot. Ons weet nie waarheen om nou te gaan nie,” het Pietersen gesê.
Paaie om die begraafplaas is Woensdagoggend vroeg gesluit weens ’n ernstige gaslekkasie wat veroorsaak is toe ’n klep aan die gastenk by die krematorium in die vroeë oggendure glo gesteel is.
Braam van Zyl, afdelingshoof van die Mangaung-brandweerdiens, het Woensdag laat weet dat die brandweer op die toneel was en dat alles weer veilig gemaak is.
Valerie de Kock, VF Plus-raadslid van die Mangaung-metro, het Woensdag gevra dat daar dringend opgetree moet word om verdere plundering by die krematorium te voorkom.
“Die swak instandhouding en algemene verval van die Memorium-begraafplaas is al baie jare ’n veiligheidsrisiko en bron van kommer vir die gemeenskap. Die lang gras, bosse en verskeie gebreekte heinings bied die ideale teelaarde vir misdadige elemente.”
De Kock sê die VF Plus het die munisipale bestuurder, Sello More, versoek om die heinings te herstel en bykomende veiligheidsmaatreëls in te stel om verdere voorvalle te voorkom.
Pietersen sê hulle weet van die mense wat in die begraafplaas wegkruip; dit was nie een van hulle groep wat die klep by die krematorium gesteel het nie. Hy sê hulle doen almal stukwerk om vir hulself te sorg.
De Kock sê die begraafplaas is só groot en verwaarloos dat dit byna onmoontlik is om deur middel van patrollies onwettige toegang te verhinder.
“Die VF Plus sal ook vrae in die Vrystaatse wetgewer vra om vas te stel waarom daar steeds gas in die tenks is, aangesien die krematorium al meer as twee jaar nie gebruik word nie.”
Sy sê die VF Plus bedank die nooddienspersoneel wat vinnig op die voorval van die gaslekkasie gereageer het.
Hannalize van der Merwe van die dierewelsynsorganisasie Bloem Animal Rescue and Care (Barc) het die hond en kat na ’n veilige plek geneem om ’n week lank daar te bly totdat die groep mense in die begraafplaas alternatiewe verblyf gekry het.