In die nuut opgeknapte ontspanningslokaal vir die afdeling vir mense met Alzheimer se siekte in die Fichardtpark-aftreeoord is van links, voor: Tommy Diedericks (voorsitter van die bestuurskomitee), Andrea Kruger (oordbestuurder) en Anita Steenekamp (versorgingsbestuurder)

Die afdeling vir mense met Alzheimer se siekte by die Fichardtpark-aftreeoord spog nou met ’n vergrote, baie gerieflike eetsaal, wat ook vir ontspannings­­­aktiwiteite gebruik kan word.

Andrea Kruger, oordbestuurder, sê die klein eetlokaal is nou vergroot sodat die 15 inwoners van dié afdeling nou saam aan tafels kan eet.

“Daar is ook ’n aparte tafel vir inwoners in rolstoele waar hulle gerieflik aan tafel kan sit,” verduidelik sy.

Kruger sê die belangrikste oorweging met die nuwe inrigting van die lokaal, is dat die omgewing huislik moet wees.

“Ons het ook alles ingerig in aardse kleure wat ’n mens rustig stem,” sê sy.

Magrita de Wet, die oord se leefstylkonsultant, bied gereeld aktiwiteite vir die inwoners hier aan.

“Ek bied daagliks aktiwiteite aan soos dat ons saam muffins bak of speletjies speel.

“Nou is daar baie meer ruimte waar die inwoners die aktiwiteite kan geniet,” sê De Wet.

’n Eie kombuis is ook ingerig.

You need to be Logged In to leave a comment.